Skip to the content

ATKV-tak Gemeenskapsteater vertel Hanna se storie

Gaste verwonder hulle aan die kunswerke tydens die bekendstelling van "Fasette van Vrouwees".
Gaste verwonder hulle aan die kunswerke tydens die bekendstelling van "Fasette van Vrouwees".

’n Prentjie spreek meer as duisend woorde... Dié gesegde het jy sekerlik al telkemale gehoor, maar in die geval van een van die ATKV-tak Gemeenskapsteater se projekte is dit inderdaad die geval.

Stephanie Killian (33), ’n kunsonderwyser by Eduplus in Bloemfontein, het in samewerking met dié tak haar kunsuitstalling Fasette van Vrouwees in Gallery on Leviseur in Bloemfontein bekendgestel.

Dié roerende uitstalling is ’n uitvloeisel van die toneelstuk Hanna wat die tak eersdaags opvoer.

Die toneelstuk is gegrond op die gelyknamige roman deur Maretha Maartens en handel oor Hanna se wroeging omdat sy nie ’n seun vir haar man, Elkana, kon baar nie. Ná ’n kinderlose huwelik van tien jaar het Elkana met Peninna getrou, wat geboorte aan die een kind ná die ander geskenk het.

Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder by die ATKV en vervaardiger en mede-produksiebestuurder van Hanna, het Stephanie genader om die plakkaat vir die produksie te ontwerp.

“Die mooie, dog klein, kunswerk het almal so geïnspireer dat ons oor ’n kunsuitstalling begin droom het,” sê hy. 

“Die uitstalling sou aanvanklik net tydens Hanna-optredes geskied het, maar het vinnig en onverwags ’n uitstalling in eie reg geword.”

Fasette van Vrouwees fokus op vroue se seer, blydskap, hartseer, trauma en oorwinnings. Stephanie het tien vroue van Bloemfontein se portrette laat neem en deur middel van akriel elkeen se unieke storie en vrouwees op doek vasgevang.  

“Ek het elkeen se sterkste eienskap van haar lewensverhaal in een gesigsuitdrukking probeer vasvang,” sê Stephanie.

Elkeen van hierdie kunswerke het ook sy eie titel wat elke vrou se oorwinning verduidelik.

Van die titels sluit in: “Hanna – die vrou wat haar kind vir God gegee het”; “Sunell – Die vrou wat kanker kis gedans het en ander lei in die dans van die lewe”; en “Estelee – Die vrou met die sagte gees wat gesagvolle respek verpersoonlik”.

Vier van die tien skilderye gaan op 12 en 13 April in die Sand du Plessis-teater se voorportaal te sien wees wanneer die ATKV-tak Gemeenskapsteater Hanna opvoer. Ses is reeds verkoop. Die projek is egter ver van klaar en Stephanie is reeds besig om aan nog skilderye te werk. Dié tak nooi tans vroue uit om hul stories te vertel en sal van die vroue kies om geskilder te word. 

Kaartjies vir die produksie is teen R100 op Pacofs se webtuiste beskikbaar.