Skip to the content

Kom vind uit hoe ons tale stille vennote kan wees

dr. Makhosi Khoza
Op 10 April gaan dr. Makhosi Khoza en dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, besin oor die rol van taal in sosiale kohesie.

Ons inheemse tale moet ’n stille vennoot in die heropbou van ons land wees en streef om ’n meer konkrete verhouding tussen mekaar te bou.

Só glo dr. Makhosi Khoza, voormalige politikus en voorstaander vir die bevordering van inheemse tale.

Op Woensdag 10 April gaan sy en dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, besin oor die rol van taal in sosiale kohesie.

Volgens Danny wil die ATKV dié soort gesprekke stimuleer en groter begrip vir mekaar kweek en dit is vir die ATKV ’n voorreg om haar te nooi om haar passie vir Zoeloe te kom deel.  

“Makhosi het ’n groot passie vir taal en sy is ’n kardinale brugbouer vir inheemse tale in Suid-Afrika,” sê hy.  

Makhosi is deesdae die uitvoerende direkteur van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en hoof van dié organisasie se program vir plaaslike regering.

Sy het ’n doktorsgraad in administrasie en ’n meestersgraad in sosiale wetenskappe. Makhozi is veral bekend vir haar innoverende navorsing wat sy in ’n handboek saamgevat het oor die verfynde logika van Zoeloe. 

UZALO IsiZulu Grammar Textbook dien as ’n tweetalige handboek vir Engels en Zoeloe. Sy beoog ook om binnekort ’n Afrikaanse weergawe te skep.

Die gesprek op 10 April sal om 18:30 vir 19:00 by die ATKV-hoofkantoor, Surreylaan 348, Randburg, begin. RSVP voor of op 3 April by ronelg@atkv.org.za of 011 919 9002.