Skip to the content

Afrikaans-onderwyser steek hand in eie boesem om passie vir taal te kweek

Mnr. Firoze Ganey het ’n passie vir Afrikaans.
Mnr. Firoze Ganey het ’n passie vir Afrikaans.

Daar is min onderwysers wat ’n liefde en ’n brandende passie vir die Afrikaanse taal het soos Firoze Ganey.

Dié Afrikaans-onderwyser by Al-Falaah College in Durban het tot onlangs baie leerders se inskrywingsfooie vir die ATKV se Afrikaanse Olimpiade uit sy eie sak betaal.

“Ek het nog altyd ’n liefde vir die taal gehad en beskou myself as ’n aktivis vir die taal,” sê Firoze.

Deesdae word die inskrywingsfooi vir die Olimpiade by die kinders se skoolfonds gevoeg, maar Firoze moes eers belangstelling onder die ouers en die kinders kweek en het dus aanvanklik aangebied om die fooie te betaal.

“Afrikaans is my huistaal, ek doen alles in Afrikaans en ek wil hê my leerders moet dieselfde oor die taal voel.”

Hy het jaarliks 50 tot 60 leerders en soms meer leerders vir die senior en junior olimpiade ingeskryf. Hy moes met tye die inskrywingsfooie vir leerders betaal wat dit nie kon bekostig nie en ook vir dié wat min of geen belangstelling getoon het nie. Op dié manier het hy heelwat leerders aan boord gekry.

“Dit verg baie tyd en motivering om die waarde van Afrikaans by leerders tuis te bring. Gelukkig het ek mettertyd my leerders se vertroue gewen en het ons tans meer as 50 leerders wat gewillig is om hulle vir die olimpiade in te skryf.”

“Ek dink die houding wat ek by die kinders wou kweek, was een van positiwiteit teenoor Afrikaans. Sprekers van die taal moet nooit voel Afrikaans is besig om uit te sterf nie.

“Afrikaans is ’n pragtige en kleurvolle taal en daar gebeur elke dag wonderlike goed in ons taal. Daar is altyd hoop vir Afrikaans,” sê hy.

Die senior olimpiade se eksamendatum is Dinsdag 14 Mei.

Die sluitingsdatum vir inskrywings vir die Junior Afrikaanse Olimpiade is 17 Mei. Vir meer inligting klik hier.

Vir meer inligting oor die ATKV se Afrikaanse Olimpiade stuur ’n e-pos aan Jeanné Naudé by jeannen@atkv.org.za.