Skip to the content

ATKV se splinternuwe Tjokkertoneel gaan rakkers se talente vier

Tjokkertoneel

Is jou klein rakker die volgende Charlize Theron, Trevor Noah, Arnold Vosloo, Tinarie van Wyk-Loots of Christo Davids?

Toon jou laerskoolkind potensiaal as ’n opkomende akteur of aktrise? Dan is ATKV-Tjokkertoneel nét die plek om sy of haar talente as deel van ’n toneelgeselskap te ontgin.

Tot onlangs was ATKV-Tienertoneel eksklusief vir hoërskoolleerders, maar met die splinternuwe ATKV-Tjokkertoneel gaan laerskoolleerders ook nou die planke warm speel.

“Die behoefte vir ’n toneelprojek vir laerskole is al ’n paar jaar duidelik uit navrae,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder by die ATKV.

“Daar is heelwat kunstefeeste en ’n paar toneelfeeste wat laerskooltoneel op ’n manier akkommodeer, maar ATKV-Tjokkertoneel sal ’n nasionale platform vir talentontwikkeling wees, gefokus op beginsels soos toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan literatuur.”

Volgens haar bestaan daar behoefte vir ’n gestandaardiseerde, geakkrediteerde, betroubare kompetisie en die ATKV kan met sy jare se ondervinding as rolspeler in die gemeenskap hierdie rol vertolk.

“Ons wil ouers help om hulle kinders te help; ons wil kinders laat spesiaal voel en hulle talente ontgin. Die ATKV wil kinders blootstel aan uiteenlopende genres, goeie speltegnieke, goeie afrigting en nuttige wenke.”

Lizané sê ook dat daar natuurlik ’n verskil tussen ATKV-Tienertoneel en die Tjokkertoneel sal wees.

“Die groot verskil is dat Tjokkertoneel nie noodwendig sulke uitdagende en sensitiewe inhoud sal bevat nie. Eerder (byvooorbeeld) kinderboeke wat verwerk is vir die verhoog en gedigte vir spreekkore, sodat die basis van storievertel en speltegniek deur die kinders aangeleer kan word.

Laerskole kan hul junior spreekkoor (graad 1 tot 3), senior spreekkoor (graad 4 tot 7) en ’n minitoneel inskryf vir die eerste jaar wat hierdie nuwe ATKV-projek van stapel gestuur word.

“Ons beoog om Tjokkertoneel kindervriendelik aan te bied met ’n fokus op die viering van kinders en die uitleef van hul talente en belangstellings.”

En waarna kan die leerders uitsien met hul deelname aan Tjokkertoneel?

“Vet pret,” sê sy.

“Dit gee vir die kinders die geleentheid om voor ’n gehoor op te tree wat hulle waardeer en gaan hulle ook die blootstelling gee aan teaters se fasiliteite.”

Die streeksfeeste vind by die volgende geleenthede plaas:

  • Gauteng-streeksfees op 20 en 21 September by die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.
  • Wes-Kaap-streeksfees op 27 en 28 September by die Kunstekaap-teater in Kaapstad.
  • Bloemfontein-streeksfees op 4 en 5 Oktober by die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein.
  • Oos-Kaap-streeksfees op 4 en 5 Oktober by die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth.

Klik hier vir die volledige brosjure.

Skole kan vir Lizané Basson kontak by 011 919 9078 of vir haar ’n e-pos stuur na lizaneb@atkv.org.za.