Skip to the content

Boeke vir Moedersdag

Ma’s is fantasties, ongelooflik en sonder vergelyke – net om ’n paar eienskappe te noem! Vier Sondag die ma in jou lewe en gee vir haar die geskenk wat aanhou gee - ’n boek. Hier is 20 boeke wat jy vir jou ma vir Moedersdag kan gee – en ook jou kans om ’n boekgeskenkpak te wen! Vertel vir ons watter een van hierdie boeke wil jy wen en hoekom. Deel dan sommer ook hierdie boodskap met al jou vriende. Hou Taalgenoot se Facebookblad Maandag 13 Mei dop wanneer ons die vyf wenners aankondig wat elk vier boeke gaan wen.

  1. Suurlemoenseisoen – Amanda de Lange (Lux Verbi)
    In Suurlemoenseisoen deel Amanda de Lange, lewensafrigter en joernalis, 52 werkstukke, wat ons leer om anders na ons omstandighede te kyk en te besef dat daar in Hóm altyd ’n oplossings is vir selfs dit wat ondraaglik lyk. Omskep die pynlike in iets soets en leef volledig en met oorgawe.

  2. Daar is ’n engel in my koskas – Willie Strauss (Human & Rousseau)
    In Daar is ’n engel in my koskas, 'n kos-memoir, herleef Willie die beste tradisies van grootword wanneer hy sy kleintyd herroep. Hy verander ou treffers soos melktert en plaatkoekies in oorspronklike nuwe kombinasies.

  3. Die troebel tyd – Ingrid Winterbach (Human & Rousseau)
    Magrieta Prinsloo, dierkundige, se kop haak uit op die verkeerde antidepressant. Sy raak vervreem van haar kollegas en haar roemryke akademiese loopbaan kom tot ’n einde. Sy aanvaar later ’n betrekking en daar word van haar verwag om te reis om met medewerkers te skakel. Op hierdie reise kom sy heelwat teë – sowel medewerkers as walvisse – wat haar lewe in ’n beduidende ander koers stuur. 

  4. Die verevrou – Jan van Tonder (Human & Rousseau)
    Jan van Tonder, die skrywer van Roepman, is terug met Die Verevrou, ’n epiese roman wat strek oor dekades en kontinente heen: oor die volstruisbedryf, die liefde, en hoe om jou eie waarheid te vind.

  5. Helena Hugo-omnibus
    Liefde is ’n roemryk Franse sprokie​, ​Tot die dood ons skei en Wilde rose​, saam in een omnibus.

  6. Huisgenoot Smulkos – Esther Malan (Human & Rousseau)
    In Smulkos wys Esther dat ekonomiese kos nie vaal en voorspelbaar hoef te wees nie. Haar slim kinkels en vindingryke veranderings is geskoei op haar Vat Vyf-kosrubriek waarmee gesinne elke week die rande rek én soos konings smul. Nou het sy meer as 100 resepte in een boek saamgevat om jou lewe in die kombuis makliker te maak.

  7. Maaltye – Christine Capendale (Human & Rousseau)
    In Maaltye – maklike geregte vir elke dag kry jy slim oplossings vir middagetes, aandetes en onthaalmaaltye. Christine Capendale het verleidelike geregte geskep wat nogtans maklik is om te maak, gesond is en jou nie ure lank in die kombuis besig sal hou nie. 

  8. ’n Soort van bevryde vrou – Kristel Loots (Tafelberg)
    Zoe is ’n bevryde vrou. Wel . . . soort van. Zak, die wannabe danser, kan dalk die antwoord op almal se drome wees. Zander verskyn ook op die horison. Hy skryf moord-en-doodslagboeke en is nou op sy derde vrou. ’n Man om te vermy. Maar ook ’n man wat haar verstand stil soen. Sal sy die regte besluit kan neem

  9. Sondag – Irma Venter (Human & Rousseau)
    Sondag. Oukersaand. Ná ’n inbraak by die Stables Estate in Pretoria-Oos word die bekende sakeman Lafras van Zyl vir die dood agtergelaat. Die res van die Van Zyl-gesin verdwyn spoorloos. Ná ses weke is daar nog geen leidrade nie. Joernalis Alex Derksen en fotograaf Ranna Abramson is op die spoor van die sewentienjarige Martina Buitendag van Stilfontein. Sy het in Johannesburg vermis geraak en die enigste leidrade oor waar sy haar bevind is ’n verslete tas met R20 000 kontant en ’n handvol foto’s. Twee misdade. Talle sondes. Meer vrae as antwoorde.

  10. Ek wens, ek wens – Zirk van den Berg (Kwela)
    As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. ’n Mens het jou werk en jy doen dit; dit help nie om vir ander goed te wens nie. Maar af en toe wens Seb tóg vir die een of ander ingryping om hom los te ruk uit sy saai bestaan – nie net by die werk nie, maar ook by die huis, waar hy, sy vrou en tienerkinders by mekaar verby leef.

  11. Armand kook kaal – Armand Aucamp (LAPA Uitgewers)
    Armand Kook Kaal bestaan uit 100 hoë-vet-lae-koolhidraat-resepte wat banting- en/of keto-vriendelik is. Stap-vir-stap en met pragfoto’s daarby wys Armand jou hoe om smuldisse te skep uit heel, gestroopte bestanddele sonder om die skaal te laat ly.

  12. Blom in die hare – Kristel Loots (LAPA Uitgewers)
    Kaila se ma is kerklik en koeklik en oorgewig en nie regtig lief vir haar nie. Kaila word bespot en leer verwerping ken op vele vlakke. As enkelouer stort sy jare later al haar liefde uit op haar seun, Sebastian. As hy tog net nie bevriend was met Bertina, die wildewragtig dogter van Max Viljoen, nie! Toe Bertina swanger raak, staan Kaila se seun se toekomsdrome gevaar om verpletter te word. Wat gemaak met die swangerskap wat soveel mense se lewe in skerwe laat spat?

  13. Hekel en word heel – Nadia de Kock & Hilda Steyn (LAPA Uitgewers)
    Hier is ’n hekelboek met ’n verskil. Vir die eerste keer in Afrikaans vertel vroue hoe hekel hulle deur moeilike en donker tye gehelp het. Stories wissel van verlies, werkverwante stres, depressie, siekte, die dood van ’n kind tot emosionele en fisieke mishandeling. 21 stories & patrone.

  14. Kanker schmanker! – Madelein Rust (LAPA Uitgewers)
    Kanker schmanker! is ’n boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil én laat lag. Dis ’n verhaal vir elkeen van ons wat ’n stryd van enige aard stry. Meer nog: Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help ook hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan.

  15. Kantelpunt – Sophia Kapp (LAPA Uitgewers)
    Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding. Nellie is pas 50, ’n konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing. Maar dan ondergaan sy ’n histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ’n vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte.

  16. Vywervrou: Lira – Chanette Paul (LAPA Uitgewers)
    Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ’n ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het.

  17. 100 beste blokraaie van 10 jaar! (LAPA Uitgewers)
    100 beste blokraaie van 10 jaar is ’n bielie van ’n blokraaiversameling. Die boek bevat ’n keur van die 100 beste blokraaie uit die immergewilde en topverkoperreeks 50 Blaaskansblokraaie.

  18. Smit Motors – Réney Warrington (LAPA Uitgewers)
    Petra Smit erf onverwags haar oupa se ou werkswinkel in ’n klein Vrystaatse dorpie. Daar is gelukkig kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra, heel nuuskierig, gaan kyk na hierdie eiendom waarvan sy  glad nie geweet het nie. Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Dié einste slagter is ook die buurman, hy is ’n vroueslaner en hy skeep sy seun, Monty, af, maar hy het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so ’n persoon verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit

  19. Skakerings van geluk – Madelie Human (LAPA Uitgewers)
    Lea Richter is vasgevang in ’n situasie waaruit sy nie kan kom nie. Haar ma is aan ’n rolstoel vasgekluister, erg depressief en afhanklik van haar. Lea se onblusbare gees hou haar egter staande: met haar kragtige motorfiets gaan sy op lang ritte en saans skryf sy romanses onder ’n skuilnaam om haar balans te probeer hou. Om den brode is sy die prim en proper bibliotekaris van Fynbos. 

  20. Om tot verhaal te kom – Lizette Rabe (LAPA Uitgewers)
    Deur elke dag te skryf, kan jy verhalend tot verhaal kom. Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie. Dis die wese van skryfterapie – of journaling. En dis waarmee hierdie boek jou wil help: om deur jou gebrokenheid jouself te vind.