Skip to the content

Uittreksel: Die Verevrou

Jan van Tonder, die skrywer van Roepman, is terug met Die Verevrou, ’n epiese roman wat strek oor dekades en kontinente heen: oor die volstruisbedryf, die liefde, en hoe om jou eie waarheid te vind.

Liora word wakker daarvan, ’n prikkeling meer priemend as die vroegoggendson wat deur die toerbus se venster skyn. Sy maak haar oë oop.

Op die sitplek voor haar staan ’n dogtertjie ken op die rugleuning na haar en kyk.

Die bus kom tot stilstand. Het sy gesnork, haar mond halfoop? Sy is uitgeput – eers die vlug van Parys na Johannesburg, en nou hierdie lang busrit onmiddellik daarna.

By Charles de Gaulle het sy spesifiek gevra vir ’n sitplek in die middel van die vliegtuig, maar volgens die instapkaart is ’n venstersitplek aan haar toegewys. Om haar geboorteland weer te sien, selfs net die liggies van Algiers of Oran hoog uit die lug, was nie op haar agenda nie. Die blote wete dat daar ná dertig jaar wéér ’n revolusie aan’t uitbreek is, dié keer Moslem teen Moslem, het haar angstig gemaak. Sy het haar sitplek aangebied vir ’n vrou langs die gangetjie wat kort­kort verlangend verby haar deur die venster probeer kyk het.

Toe hulle plekke ruil, het die vrou dadelik haar kamera uitgepluk. Liora het ’n botteltjie rooiwyn bestel, en nog een saam met haar kos. Daarna ’n uur lank gelees, toilet toe gegaan, tande geborsel en vergeefs probeer slaap. Die wyn het haar in die nanag opgejaag en sy het daarna uiteindelik ingesluimer.

Eers met die aankondiging dat die vliegtuig daal vir die landing op Jan Smuts het sy wakker geword en verby die vrou in haar sitplek gekyk en Afrika ná al die jare weer gesien. Die vaal, uitgestrekte townships, met duisende huisies klein en téénmekaar en die son wat op sinkplaat bak; heel anders as die voorstede ’n ent daarvandaan. Ons en hulle, het sy gedink, net soos sy dit in koerante en op TV gesien het, nes dit destyds in Algerië was: Europeërs hier, Arabiere daar.

Sy was angstig toe sy uit die vliegtuig klim, spyt dat sy nie reguit Kaap toe gevlieg het nie. Asof dit ’n verskil sou maak aan die benoudheid wat noodwendig gepaard sou gaan met haar eerste treë op hierdie kontinent sedert sy dertig jaar gelede, in 1962, na Parys moes vlug.

Sy skuif agtertoe op die bussitplek en sit haar bril op. Die meisietjie kyk steeds tussen lang wimpers deur na haar.

“Bonjour,” sê sy, eerder om af te skrik as om toenadering uit te lok. Die kind sink stadig agter die rugleuning weg.

Medereisigers kom een­een orent, gaap, strek ledemate wat te lank in ongewone posisies gedwing was, en strompel met die trap af. Liora kyk na buite. Haar venster hier op die bus se boonste verdieping is gelyk met ’n naambord wat op hoë pale staan: Beaufort-Wes Pitstop. Die mense wat in die rigting van die restaurantjie en ruskamers beweeg, lyk onnatuurlik klein van waar sy sit.

Sy verlaat die bus, handsak oor die skouer. Haar flinke pas stel haar in staat om ’n klompie mense verby te steek, en sy glip by die laaste vakante toilethokkie in. Daarna gaan was sy haar hande en gesig by ’n wasbak, wend bloedrooi lipstiffie aan.

In die spieël sien sy die dogtertjie van die bus aan die hand van haar ma uit een van die hokkies kom. Weer is die kind se oë op haar. Die vrou sê iets – dit klink soos ’n vermaning – en die kind kyk weg.

Die vrou kom staan langs haar. “Jy is Frans, nè?” verklaar sy op Engels.

Liora antwoord nie.

“Jy’t in jou slaap gepraat, dis hoe ek weet.”

Tog net nie dit nie, dink Liora. “Wat het ek gesê?”

Die vrou trek haar skouers op. “Ek ken nie juis die taal nie, maar daar was iets wat jy oor en oor gesê het, dit het geklink soos . . . soos pjenwar.”

“Verskoon my, asseblief,” sê Liora en gaan buitentoe om ’n sigaret op te steek.

Die son sit ’n bietjie hoër. Groot vragmotors ry verby. Die straat is bestrooi met papiere en sigaretstompies. Plastieksakke word in die sleurstroom van voertuie opgelig, dwarrel ’n ent agterna.

Liora sug. Wat die vrou meen sy gehoor het, is waarskynlik “piednoir”, die skeldnaam vir Algeryne van Franse oorsprong. Swartvoet. Die woord roep vele ander herinneringe op: Isabelle, Chrestien, Alessandra, Struzzo . . .

Die busbestuurder kom by haar verby en neem sy plek agter die stuur in. Sy laat val haar sigaret op die teer, trap dit dood en klim die trap na bo. Om haar gedagtes onder beheer te kry probeer sy die name van ondernemings in die hoofstraat lees, maar buiten die naam van die dorp en die woorde “Karoo” en “hotel” en die afkorting “B&B” wil niks vir haar sin maak nie.

Sy vou weer haar padkaart oop en volg die N1 van Johannesburg af met haar vinger. Waar het dit donker geword? Daar was uitgestrekte vlaktes met hier en daar glimmende plaashuisvensters, en sy sou graag meer wou gesien het van die dorpies tussenin, maar die maanlig en die groot afstande en die hoofligte van aankomende voertuie het haar vaak gemaak.

Bloemfontein het sy nog gesien, én die kolletjie flou liggies van Trompsburg. Op Colesberg het sy wakker geword toe die bus daar stilgehou het, maar sy is weer deur die slaap oorval.

Hanover, Richmond, Drie Susters, almal name op die landkaart, bakens op pad na die Klein­Karoo van Moshe Habib – dié het sy nie gesien nie.

Wat sy wel weet, is dat sy haarself tydens haar wakker ure verwyt het omdat sy nie harder probeer het om Maman te oorreed om saam met haar te kom nie. ’n Keer of wat het sy wel probeer, ja, maar telkens het sy dieselfde reaksie gekry: “Ek het al baie dinge in my lewe beleef, my kind, en ek sien selfs kans vir die verlange na jou wat voorlê, maar nie vir nog ’n revolusie in Afrika nie.”

Sy was self onseker oor haar besluit om hierdie reis te onderneem toe sy vooraf weer Moshe se stapeltjie briewe gelees het, al het dit meestal ’n gans ander beeld voorgehou as dié wat op TV vertoon is. Dit het haar terselfdertyd vertroos én verontrus gelaat.

’n Klompie kilometer buite Beaufort­Wes draai die bus van die N1 af: De Rust, Oudtshoorn. Al is die plantegroei hiér wel ruier, laat die veld weerskante van die reguit stuk pad Liora aan die klipwoestyn van haar kleintyd dink. Lank gelede. Finisterre. Die plaas suid van die Atlasberge op die grens van die Sahara wat Maman en tante Alessa geërf het.

Die Karoolig tref die ruit nou teen ’n hoek wat maak dat die verbyvlietende landskap tot agtergrond vervaag en Liora haar eie beeld in weerkaatsing kan sien; haar eie en dié van die dogtertjie wat weer in haar sitplek omgedraai het. Die onskuldige oë en die Karoolandskap en die snaarreguit pad waarop die bus voortspoed, laat haar meer en meer dinge onthou wat lank gelede verlê geraak het.

Die Verevrou is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op http://www.nb.co.za/Books/20684.