Skip to the content

ATKV-Spanredenaars: 'Ek sê' word nou ook 'ons sê'

spanredenaars

Wanneer jy aan ATKV-Redenaars dink, dink jy aan ’n senuweeagtige leerder, kaartjies in die hand wat voor ’n gehoor sy/haar standpunt moet bewys, maar met die ATKV-Spanredenaarskompetisie kan leerders uitsien na groepwerk en spangees om hulle sê te sê.

Die ATKV-Spanredenaarskompetisie was vir die afgelope 40 jaar die baba van ATKV-tak Suid-Gauteng Spanredenaars, maar gaan nou tot ’n nasionale kompetisie uitgebrei word.

“Ons is baie opgewonde om hierdie projek vir die hele land toeganklik te maak,” sê Jacqueline Göttert, projekorganiseerder by die ATKV.

Dié projek behels dat leerders van graad 1 tot 12 in ’n span wat uit vier sprekers bestaan, deelneem en voorbereide en onvoorbereide redenaarstoesprake lewer.

“Die ATKV het ’n behoefte aan spanredenaars raakgesien en die gewildheid van die kompetisie het ons genoop om dit as ’n nasionale projek uit te rol,” sê Jacqueline.

Volgens Henda Momberg, voorsitter van die ATKV-tak Suid-Gauteng Redenaars, sien hulle baie uit dat leerders op nasionale vlak in hierdie styl van redenaars meeding.

“Dit is vir die laaste 40 jaar veral in Alberton, Kempton Park en Springs aangebied, maar ons het baie navrae begin kry van plekke so ver soos Rustenburg, Secunda en selfs die Suid-Kaap.”

Henda sê dat die kompetisie het eers net vir graad 7- tot 12-leerders voorsiening gemaak. Later het hulle ’n kategorie vir sprekers van Afrikaanse Eerste Addisionele Taal bygevoeg tot waar dit vandag vir graad een tot graad 12 beskikbaar is.

“Dit is ’n wonderlike gevoel om te weet dat jou tak se projek nasionale aandag gaan geniet en in al nege provinsies aangebied gaan word.”

Die sluitingsdatum vir die ATKV-Spanredenaars is 29 Mei 2020.

Vir meer inligting kontak Jacqueline Göttert by 011 919 9038 of per e-pos by jacquelineg@atkv.org.za.