Skip to the content

Kom smul en kuier saam by #Onsefees se Groet-is-’n-moet

Heerlike kos, goeie geselskap en vermaak uit die boonste rakke – is dit nie hoe ons almal die Desembervakansie wil afskop nie?

By die ATKV se #Onsefees is dit presies wat jy sal kry as jy die Groet-is-’n-moet-inisiatief ondersteun.

Die #Onsefees vind van 6 tot 8 Desember by die Taalmonument in die Paarl plaas.

Die Groet-is-’n-moet-inisiatief is deur die Prins Albert-Gemeenskapstrust (PACT) begin om inklusiwiteit in die gemeenskap te kweek.

Verskeie rolspelers van verskillende agtergronde in die gemeenskap woon een maal per jaar dié feesmaal by.

“Die idee was so mooi en skakel so goed by die konsep van #OnseFees in,” vertel Morne van Staden, projekorganiseerder by die ATKV.

“Die fees is ’n plek waar ons almal aan die einde van die jaar bymekaar wil bring om saam fees te vier.”

Die ete vind Sondag (8 Desember) om 16:00 in die Digterstuin plaas. Toegang is R100 vir volwassenes, R50 vir kinders en pensioentrekkers.

Daar sal heerlike kosstalletjies en kostrokke wees wat enige kosfoendie tevrede sal stel.

“Die Groet-is-’n-moetkonsert se tema sluit lieflik aan by die algehele konsep van gemaklike ontmoeting en samehorigheid. Mense van verskillende kulture ontmoet en groet nie net deur saam om ’n tafel te eet nie, maar ontmoet ook deur musiek,” voeg Irma Alberts, regisseur van die Groet-is-’n-moetkonsert by.

Die konsert begin om 18:00.

“Dit is ’n gemaklike konsert waar mense rustig op die gras kan sit en piekniek hou en luister na onder meer bekende kontemporêre en klassieke liedjies.”

Die gaskunstenaars sluit Anna Davel en Corneil Müller, voormalige deelnemer van The Voice SA, in.

Die vorige wenners van ATKV-Muziq & -Muziqanto, 2019 se ATKV-Crescendofinaliste en verskeie sangkore sal ook in die konsert te sien wees.

“Mense, groepe, instansies en organisasies en skole kan tafels van kaartjies teen R2 500 vir tien mense koop. Die kaartjie sluit ’n ete van een van die kostrokke, sowel as die Groet-is-’n-moetkonsert in, wat ook die afsluitingskonsert van die fees is,” sê Morne.

Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Klik hier vir die volledige feesprogram.

Vir meer inligting oor die tafelverkope kontak Bjorn Pick by 021 880 1761 of per e-pos by bjornp@atkv.org.za.