Skip to the content

Rielraakvatters gaan by #Onsefees dans dat die stof staan

Die Rypwind Rieldansers in aksie tydens die 2018-finaal van die ATKV-Rieldanskompetisie. Foto: Izak de Vries

Die ATKV-Rieldansfinaal is jaarliks ’n geleentheid waar rieldansers van heinde en verre kom om die askoek te trap. Vanjaar sal dié kompetisie by die ATKV se #Onsefees plaasvind.

Die fees vind van 6 tot 8 Desember by die Taalmonument in die Paarl plaas.

Volgens Morné van Staden, projekorganiseerder by die ATKV, was dit noodsaaklik om die ATKV-Rieldansprojek na nuwe hoogtes te neem.

“Ons belê al die afgelope 14 jaar in rieldans en ons wou dié kunsvorm op ’n gelyke speelveld met ander kunsvorms plaas.

“Die riel moet nie meer in afsondering beoefen word nie en verdien erkenning as een van ons mooiste en kosbaarste kunsvorms,” sê hy.

Vanjaar gaan nege spanne – in onderskeidelik die o.14-, o.20- en senior afdelings – sake uitspook om as die konings van die riel gekroon te word.

Die drie kampioenspanne van 2018 sal elke ouderdomskategorie open en hul trofeë oorhandig. Dié spanne is ook deel van die verskeidenheidskonsert op 6 Desember wat onder meer die Namastap, Maleier-, tradisionele Afrika- en Griekwakoormusiek en volkspele ten toon gaan stel.

Die rieldanskampioenspanne van 2018 sal ook in Vir die liefde van… ’n musikale blyspel op 7 Desember optree.

Volgens Maria Klaase, groepleier van die Boesmanland Bitterbessies van Loeriesfontein in die Noord-Kaap, is hulle verheug dat hul geliefde rieldans nou op so ’n groot platform aandag geniet.

“Ons sien vreeslik baie uit na die nuwe fees,” sê sy.

Boesmanland Bitterbessies is tans die senior rieldanskampioene.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om ons eeue-oue tradisie voor so ’n groot gehoor ten toon te stel. Dit is vir ons iets heeltemal nuuts.”

Sy sê feesgangers gaan deur hul riel betower word.

“Ons het ’n paar verrassings vir die gehoor. Hulle kan beslis ’n skouspel verwag.”

Sara van Rooi, groepleier van die Prins Albert Vastrappers, is net so opgewonde.

Die Prins Albert Vastrappers is die huidige o.14-rieldanskampioene.

“Ons kan nie wag nie. Ons voel bitter trots om die kultuur van ons voorouers voor so baie mense op te voer. Hulle het dit vir generasies gedans en ons dans dit nou vorentoe.

“Ons gaan askoek en skaapskeer dat die stof so staan!”

Die ATKV-Rieldansvoorprogram met Tribal Echo begin om 15:10, waarna die amptelike rielverrigtinge om 16:00 afskop. 

Kaartjies vir Saterdag kos R100 vir volwassenes en R80 vir kinders en pensioentrekkers. Kaartjies vir die fees kan by Computicket gekoop word.

Vir die program en meer inligting klik hier.