Skip to the content

Uittreksel: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Hond se gedagte is Kerneels Breytenbach se jongste roman. Fleur de Villiers is nie ’n kenner van rugby nie. Wanneer haar ou pel haar vra om ’n biografie oor die Springbokrugbykaptein te skryf, is sy om die minste te sê teësinnig. Wat op aarde weet sy van rugby, so op die vooraand van die Wêreldbekertoernooi in die jaar 2025? Lees hier ’n uittreksel uit Hond se gedagte.

Wie is die twee vuige vroue saam met Slapogie, daar op die heilige grasperk? Slapogie sal kan sê hoe hulle is, maar nie wie nie. Hy noem hulle Baby Doll en Piglet, maar dit is nie eg Argentynse name nie. Albei is in die land vir die joligheid en oormaat van alles wat rugbyspelers van dwarsoor die wêreld hulle bied. Slapogie se manjifieke skop van gister het hulle na sy bed gelok. Die skop en die schnarf.
En natuurlik sy slap ogie.
Slapogie het aan die einde van ’n lang nag besluit om die slaap ’n bietjie langer te ontwyk sodat hy Baby Doll en Piglet kon wys dat hy dit weer kan doen. Hulle is seer geskaaf en rugseer, maar hulle is bitter wakker.
Alles in die lewe kan Slapogie wéér doen. Dis sy filosofie.
Hy het hulle deur die tonnel na die speelveld gelei. Rondom hom gekyk, na die rye leë sitplekke. Die skoonmakers het die plek van ’n kant af verlos van die gemors wat rugbyskares agterlaat. Papier, plastiekbier- bekers, drek en kots; die onstigtelike dinge wat ’n ewe groot en waar- derende skare (wat oor enkele ure hierdie stadion gaan vul vir die groot weeklikse dankseggingsdiens) uitermate sal ontstel.
Slapogie sal daar wees. Saam met sy makkers, die draers van groen en goud.
Om te getuig.
Vroegoggend, met die son wat al ’n perskeskyfie uitgestoot het bo die winterhorison, rigting OR Tambo, staan hy met net sy hardloopskoene aan. ’n Man kan nie uit ’n gelouterde liefdesbed opstaan en dadelik sy toks aantrek nie.
Om die heilige waarheid te vertel, soos hy hier staan met sy wife- beater-frokkie en Wallaby-broek wat ’n voorganger van Piglet in Sydney vir hom geskenk het, voel hy naak. Kaal werk vir hom, geen fout nie. Dit het heelnag gewerk terwyl Baby Doll en Piglet die een lyn ná die ander gesny het. “Gooi gruis, girls” het hy meer kere gesê as wat sy geskommelde geheue nou kan onthou. En hét hulle! ’n Lang lyn wat begin in die kuiltjie onder een van die twee se ken, en dan tussen die Twee Susters deur, groot schnarf by die naeltjie, en dan na die voor-
tuin.

Waar hy dan vir hierdie twee Argentynse chicks sy Vanwyksvleise moves gewys het.
Slapogie se kop voel asof iemand sy sinusholtes met staalwol byge- kom het.
Maar wat! Hy kom van anderkant die plaas Smouskolk. Hy kan die hele Verneukpan snuif en daarna steeds ’n goeie game hê.
Hy neem die kicking tee en stap kwartlyn toe. Doen ’n soort samba al voor Piglet uit. Sy aap hom die passies na, rugbybal onder die arm. Haar gegiggel en Spaanse gekoer eggo vanuit die gestoeltes terug. By die kwartlyn draai hy om, tree twee treë terug, en plaas die kicking tee op die geseënde gras.
“Bal,” beveel hy. ’n Woord wat die kommunikasiegaping oorbrug. Piglet probeer die bal flink aangee, maar dit glip uit haar vingers. Slapogie dink nog daaraan om vorentoe te buk, maar die aand se
joligheid haal hom in. Hy kraai van die lag en gee ’n lang tree na die bal toe, probeer dit soos ’n sokkerspeler net voor dit die grond tref, vang en hoog die lug in te skop, sodat hy dit makliker kan vang.
Wanneer sy voet die bal tref, hoor hy die geluid van sy groottoon wat breek voordat hy kan verstaan hoekom die bal dan nou skielik soos ’n baksteen voel.
Iets word losgemaak in die oerdeel van sy brein. Slapogie brul soos
Ramses Ellispark dit nog nooit gehoor het nie.
Piglet gil.
Baby Doll skree iets en kom aangehardloop na Slapogie, wat nou besig is met ’n Skotse dans op sy beste aftrapvoet. Ná ’n paar hobbels syg hy onelegant op die gras neer.
“Watse bal is dit?” Slapogie probeer sy voet uit die ligte drafskoen ver- wyder sonder om die toon verder seer te maak.
“Dis ’n present.” Die Argentynse groupie praat ’n gefragmenteerde
Engels. Ieta prê zent. “Vir wie?”
Slapogie is die bliksem in. “Joe.”
Baby Doll plaas haar hand op Slapogie se skouer.

Hond se gedagte is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar.