Skip to the content

Uittreksel: kyk na my deur Nataniël

kyk na my is Nataniël se eerste volwaardige memoir. Met hierdie merkwaardige boek vertel Nataniël die verhaal van ’n kindertyd in drie klein dorpies en een groot voorstad, in ’n era waartydens reëls blindelings gevolg is, en van ’n jong seun se oorweldigende vrees vir die gewone.

Die game is heavy

Ek staan voor Ouma se spieëltafel. Die boonste laai is oop. As jy haar nie geken het nie en net die laai aanskou het, sou jy jouself ’n heel ander persoon voorstel. Die laai is vol halssnoere, ’n té formele woord, ons het eerder gepraat van krale. Almal is in dieselfde styl, elkeen ’n ander kleur, twee of drie stringe, kort, effens langer, nog ’n bietjie langer, almal saamgebring by dieselfde hakie of heel groot steen wat agter in die nek moes rus. Van agter na voor word die krale groter. Nie een is heeltemal rond nie, elkeen lyk of hy met ’n vinger effens ingeduik is om ’n unieke vorm te kry. Waarvan dit gemaak was, weet ek nie, in die hoek van die laai was ’n gebreekte string met splinters soos dié van dun glas of skulp. Elke kraal is gedoop in ’n ander kleur verf of emalje, geen kleur was solied nie, daar was variasies soos wanneer jy twee kleure verf sou meng om iets met rowwe kwashale te versier. Hierdie stringe het presies gelyk soos dié wat die koningin van Engeland op foto’s gedra het, net meer kleurvol, Ouma se bont pêrels. In die laai het hulle gelê soos halfmane – een in donkerblou, een in sagte pienk, een in ligte groen, een in bloedrooi, een in mosterdgeel, een in turkoois – en my verwelkom in ’n nuwe hemelruim.

Ouma, sê ek, In my Bybel dra die konings almal sulke krale. Ouma lag.

Probeer dan maar die rooie, sê sy.

Ek sit die krale om my nek, Ouma maak dit agter vas. Hulle dra lang mantels, sê ek.

Dan moet ons kyk wat hier is, sê Ouma.

Sy haal ’n oranjerooi rok uit die kas, een van sagte lap met patrone soos vlamme, binne is ’n voering in dowwe rooi, ek het haar nog nooit in hierdie tabberd gesien nie. Ek vra nie vrae nie, ek hou net my asem op terwyl sy die vuurkolom om my lyf laat sak. Sy grawe in ’n winkelsak en ’n oorlede diertjie beland op my skouers. Konyn? Jakkals? Ek het Ouma nog nooit pels sien dra nie. Op hierdie oomblik lyk ek soos die koningin van Engeland se ma.

Het jou konings krone? vra Ouma. Ja Ouma, sê ek, Goues!

Kom ons gaan kyk in die voorkamer, sê sy.

Ek lig die rok se voorkant op en kyk na my voete.

Daai konings het sandale gedra, sê Ouma, Hier is nie sulke goed nie.

Sy buk voor die kas en draai toe om met twee swart kerkskoene in haar hand.

Moenie val nie, sê sy.

Ek slof agter haar aan tot in die voorkamer. Die skoene het hakke, dis ’n openbaring, ’n veilige vesting, ’n styg bo die res van die mensdom, watter stomme wese het besluit ons moet met plat skoene enige lewe aandurf?

In die hoek van die voorkamer woon ’n kleinerige varing op ’n houtstaander. Rondom die kleipot is ’n metaalsilinder met krulle en punte wat boontoe wys, dofgoud geverf. Ouma lig die varing met sy pot, glip die silinder af en plaas dit versigtig op my kop.

Af met die gang, sê sy, Jou onderdane wag!

Teen die tyd dat ek die einde van die gang bereik, is ek nie meer ’n koning nie, ek is ek en Ouma is die genade waarsonder geen negejarige ooit ’n toekoms kon hê nie.

kyk na my is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op NB-uitgewers.