Skip to the content

VVA en ATKV-tak help gemeenskap lees

Die Vriende van Afrikaans (VVA) en die ATKV-tak Sommer net Ons in George het onlangs opleiding aan vrywilligers gegee sodat hulle ander kan help om te leer lees.
Die Vriende van Afrikaans (VVA) en die ATKV-tak Sommer net Ons in George het onlangs opleiding aan vrywilligers gegee sodat hulle ander kan help om te leer lees.

In die omgewing van die Suid-Kaap en Sentraal-Karoo is daar honderde kinders en selfs volwassenes wat nie die wonder van lees ken nie. Mense wat nog nooit meegevoer is deur die wêreld wat in boeke opgesluit lê nie.

Die Vriende van Afrikaans (VVA) en die ATKV-tak Sommer net Ons in George het onlangs opleiding aan vrywilligers gegee sodat hulle ander kan help om te leer lees.

“Dié volwassenes het die Doen-en-Leerprogram wat die VVA aanbied, bygewoon,” vertel Chareldine van der Merwe van die VVA.

“Ons het verlede jaar ’n demonstrasie van die Doen-en-Leer-leesprogram aangebied. Op grond van terugvoering het ons toe besluit om van die ouers op te lei sodat hulle ander ouers en kinders kan leer om te lees.”

Dié program is deur die oudonderwyser wyle dr. Rose Botha ontwikkel en word tans met die ondersteuning van die VVA geïmplementeer.

Dokka Swart van die Doen-en-Leerprogram lei fasiliteerders op om kinders en volwassenes in veral landelike gebiede te help met lees.

“Ons het verlede jaar saam met die ATKV-tak Sommer net Ons drie boektrommels in die gemeenskap geskenk en gaan werksboeke en ook die pakkette vir die opleidingskursus aan die gemeenskap oorhandig,” sê Chareldine.

ATKV-tak Sommer net Ons woeker self ook met verskeie leesprojekte in die gemeenskap.

“Met die ondersteuning van die VVA vorder ons leesprojek baie goed en beoog ons om al die skole in ons omgewing by dié projek te betrek,” sê Beverley McKelly, takvoorsitter.

“Ons het besef daar is ’n agterstand in ons gemeenskap wat leesvaardighede betref en deur ons leesmarathon en ander leesprojek wil ons weer die liefde vir lees onder kinders en grootmense kweek,” sê sy. 

Vir meer inligting kontak Chareldine van der Merwe by 072 036 5412 of per e-pos by chareldinev@vva.atkv.org.za.