Skip to the content

AbbAsorg Cloetesville en The Reach Trust wil saam ’n verskil maak

Die nuutste toevoeging tot die Finding Thabo-program is ’n mat waarop kleuters antwoorde kan soek.
Die nuutste toevoeging tot die Finding Thabo-program is ’n mat waarop kleuters antwoorde kan soek.

ATKV-AbbAsorg Cloetesville het onlangs hande met The Reach Trust, wat hoofsaaklik in die Wes-Kaap werksaam is, gevat. AbbAsorg is die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram en help om vir ’n kind vlerke te gee.

Dié organisasie wil met die program Finding Thabo soveel moontlik kleuters in Vroeë Kinderontwikkeling (VKO)-sentrums bereik en glo dat vroeë intervensie baie belangrik is. Die program bestaan daaruit om alledaagse situasies in leerervarings om te skep, bv. wat kan ’n mamma alles aan haar kind leer tydens die rit in ’n taxi of wat kan op wasdag geleer word ? Een van die doelstellings is dan ook om hegter gesinsbande te smee.

Elke kleuter kry ’n A2-plakkaat wat hy huis toe neem en elke praktisyn kry ’n A2-plakkaat. Elke dag kry die praktisyn ’n WhatsApp-boodskap met voorstelle hoe sy die plakkaat in die klas kan gebruik. Die praktisyn moet natuurlik die voorstel só aanpas dat dit by die program vir daardie spesifieke dag inskakel. Die ouers moet by die huis saam met die kind die plakkaat ontgin, bv. hoeveel rooi sirkels sien jy of waar is die katjie? 

Die program is ook op Finding Thabo se Facebookblad beskikbaar. Wanneer ’n foto gedeel of voorstelle gemaak word, verdien jy punte en kan dit dan by Pick n Pay vir Yum-Yum-grondboontjiebotter omgeruil word. Die tydskrif FreshLiving/Kook en Kuier wat gratis by Pick n Pay se kasregisters beskikbaar is aan kliënte met ’n SmartShopper-kaart, ondersteun hierdie projek.

Die nuutste toevoeging tot die program is ’n mat met dieselfde prent as die plakkaat. Kleuters sit op die mat en soek na die antwoorde wat deur die praktisyn gevra word. 

Vir meer oor AbbAsorg klik hier.