ATKV borg SAAWK se Studentesimposium

Die ATKV was onlangs een van die trotse borge van die tweede Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK).
Dié simposium bied vir nagraadse studente die platform om hul navorsingswerk in Afrikaans aan te bied. Die doel is om Afrikaans as hoëfunksie- en akademiese taal op tersiêre vlak te bevorder.
Aanbieders word ook aangemoedig om met Afrikaanse nuutskeppings vorendag te kom en die beste nuutskeppings word tydens dié geleentheid bekroon. Deelname aan die simposium het binne een jaar met 170% gegroei van 17 aanbieders in 2018 tot 46 in 2019. Navorsingswerk is tydens die 2019-simposium uit 14 vakgebiede aangebied wat onder meer tale, filosofie, regte, sosiale antropologie, sosiologie, musiek en kuns ingesluit het.
Volgens prof. Linda van Ryneveld van die Universiteit van Pretoria, organiseerder van die simposium, is Afrikaans haar passie en sy wil deel wees van geleentheidskepping in en deur Afrikaans.
“Ons oogmerk is om in 2020 60 nagraadse studente te hê wat hul navorsing in Afrikaans kom aanbied,” sê Van Ryneveld.
Hannelie Krige se referaat is tydens die simposium as die wenreferaat aangewys. Dit het gehandel oor die uitdagings van maatskaplike werkers wat dienste lewer aan volwassenes met metamfetamienafhanklikheid in een landelike gebied.
Volgens Rozeldi Trollip, projekorganiseerder: Taal by die ATKV, glo die ATKV dat moedertaalonderrig ’n sleutelfaktor in sukses is.
“Ons wil kan verseker dat wanneer mense hul kinders na Afrikaanse kleuterskole stuur, daar regdeur tot op tersiêre vlak ook voorsiening sal wees vir hul kinders om hul drome verder in Afrikaans uit te leef. Daarom is dit belangrik dat ons bly voortbou aan Afrikaans as akademiese taal en daarom is simposiums soos hiérdie so belangrik.
“Ons sien uit om in 2020 weer by hierdie simposium betrokke te wees en so Afrikaans in die akademie uit te bou.”