Skip to the content

ATKV borg twee tienerradiodramas op RSG

Die ATKV, in samewerking met RSG en die Nasionale Toneelkompetisie, se jongste innoverende radiodramaprojek is binnekort op die lug.

Die prys van glo-stof en Drosters word Donderdag 17 Oktober om 20:00 ná mekaar op RSG uitgesaai.

“Ons wil nuwe gehore kweek vir radiodramas terwyl ons terselfdertyd tienerakteurs blootstel aan radio as medium. Ons kon ook twee jong skrywers bemagtig en help skep aan nuwe inhoud vir RSG,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel.

Die projek is ’n uitvloeisel van die Nasionale Toneelspelkompetisie waarvan die eindronde in Mei in die Kunstekaap-teater aangebied is. ’n Radiodrama-oudisie-ronde het deel gevorm van die kompetisie, met Kobus Burger (RSG se uitvoerende regisseur: drama) en die bekende aktrise en radiodrama-regisseur Joanie Combrinck as beoordelaars. Die oudisies is in RSG se Seepunt-ateljees gehou.

Retief Scholtz en Herschelle Benjamin is gevra om elkeen ’n drama te skryf vir die leerders wat goed gevaar het in die radio-ronde.

Die ATKV borg die skryf en opneem (regie) van die twee radiodramas.

Die tienerspelers in Drosters is Francois van der Merwe (Hoërskool Bellville), Adri-Jo Waterboer (Hoërskool Bellville), Graeme Watson (Hoërskool Swartland), Angelo Bergh (Hoërskool Langenhoven Gimnasium) en Greteli Fincham (Hoërskool Stellenbosch). Greteli was onlangs te sien in Alles Malan op KykNET. RSG se Johan Rademan het die regie behartig. 

Die prys van glo-stof is by RSG se Auckland Park-ateljee opgeneem onder spelleiding van die bekende skrywer en regisseur Leon van Nierop. Brendon Eloff (Hoërskool Monument), Minke Marais* (Hoërskool Noordheuwel), Julian Robinson (Helpmekaar Kollege) en Matian Barnard (Hoërskool Menlopark) sal agter die mikrofoon hul slag wys saam met veteraanakteur Tobie Cronje.

Volgens Burger sien RSG baie uit na die eindprodukte. “Ons glo dat dit ons drama-aanbod in talle opsigte sal verruim.”

Lees hier meer oor RSG se lekker radiodrama-seisoen wat voorlê.

*Minke Marais wat in Die prys van glo-stof speel, is onlangs aangewys as die beste aktrise in tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal.