Skip to the content

ATKV-Jeugleiersimposium ’n móét vir jong leiers

Die ATKV-Jeugleiersimposium rus nie net jong leiers toe nie, maar is op die koop toe vet pret.
Die ATKV-Jeugleiersimposium rus nie net jong leiers toe nie, maar is op die koop toe vet pret.

Dis weer daardie tyd van die jaar wat skole hul nuwe leiers aanwys en leerders en hul ouers opgewonde is oor die nuwe uitdaging.

Dié groot verantwoordelik gaan egter met onsekerheid gepaard, want hoe berei ’n mens voor vir hierdie nuwe taak.

Gelukkig is die ATKV se Jeugleiersimposium vir laerskole daar om jong leiers met die regte gereedskap toe te rus om te verseker dat daar ’n sukses van die jaar as leier gemaak word.

Die ATKV-Jeugleiersimposium gee vir graad 6-leerders die geleentheid om vaardighede as leiers aan te leer en verskeie sprekers kom deel hul wenke en geheime.

“Wanneer kinders as leiers benoem word, staar enorme uitdagings hulle skielik in die gesig. Hulle moet skielik aanpas en uit hulle gemaksone klim,” sê Annemarie Alberts, projekorganiseerder.

Kom uit jou gemaksone is ook vanjaar se tema van die ATKV-Jeugleiersimposium.

“Ons wil graag vir kinders die selfvertroue gee om enige uitdaging in die daaropvolgende jaar aan te pak,” sê sy.

Die simposium gaan vanjaar by ATKV-Buffelspoort plaasvind.

Moet egter nie vervelige lesings verwag nie.

Volgens Jorinda van Rooyen, programleier by die Jeugleiersimposium, gaan leerders belangrike vaardighede deur opwindende aktiwiteite leer.

“Ons gaan nie net in ’n konferensiekamer sit en na sprekers luister nie. Daar sal ook speletjies gespeel word en leerders gaan die geleentheid kry om ook op die oord te baljaar.”

Jorinda sê dié projek is enig in sy soort.

“Ons gee vir kinders alles wat hulle nodig het om suksesvol te wees en boonop loop baie weg met nuwe vriendskappe wat gesmee word.”

Die ATKV-Jeugleiersimposium vir laerskole vind tussen 25 en 28 November plaas. Sluitingsdatum vir inskrywings is 5 November. Dié simposium is vir leiersgroepe, maar individue kan ook inskryf.

Vir meer inligting kontak Annemarie Alberts by 083 564 7438 of per e-pos by annemariea@atkv.org.za.