Skip to the content

Geloofstaak lei tot tweede boek vir Egoli-aktrise

Adriana Faling is die skrywer van Die seders van Libanon. Foto: Cor Faling
Adriana Faling is die skrywer van Die seders van Libanon. Foto: Cor Faling

Adriana Faling het gewag vir God se tydsberekening en inspirasie. Vyf jaar ná die verskyning van haar eerste boek, is haar nuutste boek, Die seders van Libanon, op die rak. Reza Clifford het met haar gesels oor dié boek, haar skrywersreis en die vervolgde kerk.

Baie mense sal jou onthou van Egoli en 7de Laan. Wanneer het die skryfgogga jou gebyt en vertel meer oor jou reis as skrywer?

Die jongste van my vier kinders is in 2012 skool toe en ek het vir die eerste keer in baie jare soggens ’n bietjie tyd op hande gehad. Ek het gesoek na iets sinvol om te doen, sodat ek nie net met onbenullighede besig raak nie. Soos Psalm 119:37 het ek gebid: “Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys.” Kort daarna het ek ervaar dat ek aan ’n roman moet begin skryf. Dit was ’n lewensdroom, maar ek was vreesbevange en het totaal onbekwaam gevoel. God het my verseker dat dit Hy is wat ons bekwaam maak en my skrywersreis het daar begin. God is getrou! Ek leer voortdurend en dit is baie vervullend.

Die vervolgde kerk is nie ’n algemene tema nie en ook nie ’n maklike tema om oor te skryf nie. Ek kon agterkom in jou twee boeke dat jou kennis hieroor nie net uit boeke en ander leesstof kom nie. Hoe het jy hierby betrokke geraak?

My man moes dikwels vir sy werk na die Midde-Ooste reis en hy het ook by gebedsaksies vir die vervolgde kerk betrokke geraak. Ek het nie ’n idee gehad wat in die Midde-Ooste aangaan nie, hoewel ek altyd baie meegevoel gehad het vir die mense in die vervolgde lande. In 2011 het ek vir die eerste keer saam met hom na Egipte gereis en ’n nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Ons het die span van INcontext International daar leer ken. Sedertdien het ons al ’n paar reise saam met hulle onderneem en ek ag my bevoorreg om deur so ’n kundige span gelei te word m.b.t. navorsing en eerstehandse inligting. Hulle verwerk aktuele nuusgebeure en plaas dit in die konteks van ’n Christelike perspektief. Deur hierdie “Christen-nuusagentskap” is ons voortdurend op die hoogte gehou van wat in die wêreld gebeur en hoe God se koninkryk veld wen. Dit was dus Mike Burnard van INcontext wat voorgestel het dat ek die Siriese vlugtelinge-krisis as agtergrond vir my tweede boek gebruik. Hy het gevra dat ek ’n stem vir die Siriese vlugtelinge en hul kinders sal wees. So het dit gekom dat ek in 2017 saam met ’n mediese span na Libanon –  ’n pragtige en fassinerende land – gereis het. INcontext het my ongelooflik tegemoet gekom. Hulle het onderhoude met verskeie vlugtelinge, mense wat direk met die noodverligting werk en selfs met ’n verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir vlugtelinge in Beirut gereël. Dit was ’n lewensveranderende besoek.

Ek het intussen besef dat ons dalk verkeerdelik na die “vervolgde” kerk verwys. Die verhaal van die kerk wat ek in “Seders” vertel, is die verhaal van die “oorwinnende” kerk. Die kerk wat ek spesifiek in Libanon ontmoet het en ook die pastore van Sirië wat ek ontmoet het – wat steeds gemeentes aan die gang hou in ’n land wat flenters geskiet is – het my asem weggeslaan. Ek het gevind dat God reeds voor die oorlog die mees fenomenale kerk opgerig het, wat nou besig is om hul moue op te rol en hoofsaaklik Moslem-mense te bedien met Woord en daad. Hierdie kerk is dinamies, kragtig, en deins nie terug voor die uitdagings voor hom nie. Dit is nie ’n pieperige, “mooi” kerk wat hom besig hou met onbenullighede nie. Dit is ’n kerk met fokus wat dag vir dag met God saamwerk om Sy koninkryk te laat kom. Dit voel daarom vir my verkeerd om na hulle as die vervolgde kerk te verwys, want dit klink bejammerenswaardig. Ons kan so baie leer by daardie kerke, dat ek daarom eintlik die bordjies wil verhang.

Rewolusie van die hart het in 2014 verskyn. Het jy destyds gedink dat Saleh, Ashraf en Salome se storie gaan uitkring na ’n tweede boek?

Daar was nie sprake daarvan tydens die skryfproses van Rewolusie van die Hart nie. Ek het toe bloot die geloofstaak van die skryf van ’n eerste roman probeer voltooi. Dit was oorweldigend genoeg. Kort daarna het Lux Verbi my gevra of ek sal oorweeg om ’n reeks te skryf en ek was in die wolke. Ná die skryf van “Rewolusie” was dit egter in my brein en hart gegraveer dat dit God alleen is wat my bekwaam maak, soos 2 Kor. 3:5-6 sê: “Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.” Ek het geweet dat as ek dit op my eie probeer aanpak, sal dit dooie werke wees. Ek moes eenvoudig wag vir God se tydsberekening en inspirasie!

Dit het drie jaar geneem voor ek ervaar het dat God vir my die groen lig gee om voort te gaan met boek twee. Baie faktore het saamgewerk en teen daardie tyd het ek weer nuwe ervarings gehad en daar was nuwe wêreldgebeure om oor te skryf.

Aanvanklik het ek gedink die verhaal sal voortgaan met my vorige boek se hoofkarakters, dus was my verrassing groot toe hulle in ’n newekarakterposisie inskuif en ek vier heerlike, nuwe jongmenskarakters in die hoofrolle kon plaas. Ek weet al dat as ek so verbaas is, dan is dit JUIS God se inspirasie, dan het ek dit nie self uitgedink nie. Robert Frost het gesê: “No surprise for the writer, no surprise for the reader.” Ek was meteens so uitgedaag om te dink wat jongmense KAN doen! Daardie dinamika en beweging.

Die Seders van Libanon is nie per se ’n jeugboek nie, (hoewel ek hoop dat baie jongmense dit sal lees) maar dit is geskryf met die wete dat God die wêreld deur jongmense kan verander. Ons kinders wil sinvolle lewens in God se koninkryk te lei. Hulle is bereid om alles te gee vir ’n saak. God kan hulle so kragtig gebruik. Daar steek baie meer in die sogenaamde millenniërs as wat ons kan raai. 

Sjoe, Ilizabith se verhaal is aangrypend en ’n mens kry haar van die eerste oomblik af intens jammer. Hoe het Ilizabith se karakter in jou kop vorm aangeneem?

Stukkie vir stukkie, of sal ek liewer sê: laag-vir-laag. ’n Heerlike karakter om te skryf omdat sy soveel verskillende dimensies het. Die lesers beleef haar binnelewe en besef dit is drasties anders as hoe haar mede-karakters haar van buite sal beleef. Die wisselwerking tussen haar binnelewe en buite realiteit was ’n interessante dinamika om mee te werk. Sy is dapper, innerlik sterk en terselfdertyd geweldig weerloos, omdat sy ’n onderdrukte vrou in ’n brutale sisteem is. Sy is een om mee rekening te hou. Sekerlik een van die komplekse karakters wat al onder my vingers lewe kon kry. Ek voel erg beskermend teenoor haar.

Jy kry dit reg in jou boek om gesigte te gee aan ’n krisis wat ons hier by die huis net so terloops van kennis neem. Talitha is baie uitgesproke oor haar frustrasie met die kerk in Suid-Afrika. “Ek wens ek kan die kerk gaan wakker skud en verduidelik watter rol ons kan speel...” Hoe sien jy die rol van Suid-Afrikaanse kinders van die Here en hoe hulle ’n verskil kan maak?

Die Libanese kerk my geleer het dat dit juis in dokter tye, die perfekte geleentheid is vir God om Sy Lig te laat skyn. God se plan vir hierdie verlore wêreld is om Sy kerk te gebruik, om die wêreld te bereik. Daar is meer as genoeg geleentheid om God se lig na die donker situasies in Suid-Afrika te dra. Ons kerk het ’n belangrike rol om te vervul. Dit is ons wat die stem in die woestyn moet wees wat roep: “Hier is die pad, loop hierlangs!”

Ek hoop dat met die lees van die boek mense aangespoor sal word om fokus te behou en nie toe te laat dat die stroom van negatiwiteit en swartgalligheid in Suid-Afrika ons verdrink nie.

Jy het vier kinders – hoe op dees aarde kry jy tyd om navorsing te doen en ’n boek te skryf?

Dit is werklik ’n spanpoging. Ek het eers met my man bevestig of hy kans sien dat ek weer skryf voor ek die uitgewer van my planne laat weet het. My man is ’n steunpilaar en is besonder ondersteunend. My kinders ook. Ek probeer om my skryftyd te beperk tot soggens wanneer hulle by die skool is, sodat ek smiddae en saans beskikbaar is vir hulle, maar die realiteit lyk dikwels anders. Dit beteken dat almal my by tye moet akkommodeer, veral met sperdatums wat naderstorm.  As jy ’n vlieg teen die muur was, sou jy sien dat ons dae soms tot op die minuut beplan is om alles te laat uitwerk. (Ek is nogal ’n meester-beplanner.) Ek en my man lyk soms of ons aflos hardloop soos ons die stokkie vir mekaar aangee, maar die voordeel is dat ons beslis nie verveeld is nie.

Voorts het ek geweldige ondersteuning van InContext International en hul navorsingspan gekry. Hulle het my vrae flink beantwoord en my na ’n magdom relevante dokumente verwys wat die navorsingsproses aansienlik vergemaklik het. Navorsing is so deurslaggewend om die skryfwerk relevansie, outoriteit en gewig te gee, maar mensdom ek wens ek kon net ’n rekenaarskyfie met die inligting in my brein plant. Dit is pynlike werk.

’n Goeie aanduiding dat ’n mens ’n boek geniet, is dat wanneer jy besef daar is net ’n paar blaaie oor ’n mens sommer stadiger wil lees dat dit nie ophou nie. Dit het vir my gevoel of hierdie boek hom beslis leen tot ’n derde een. Ilizabith en Emile se storie, Mohammed, asook Pascale en Talitha se storie, en ’n mens wonder oor Yasmine se ontberinge. Is dit jou plan?

Ek waardeer dit dat jy wou aanhou lees, want ek glo daar is meer om te vertel ...

* Die seders van Libanon word deur Lux Verbi uitgegee en is by uitgesoekte boekwinkels teen R240 beskikbaar.