Maboneng Township Arts Experience kry toekenning
Die Maboneng Township Arts Experience tydens Aardklop wat in samewerking met die ATKV aangebied is, is onlangs met die Aardkloptoekenning vir grensverskuiwende werk beloon.
Die projek word beskryf as ’n viering van verskille en Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, het deel gehad in dié opwindende taal-en-kultuurervaring.
“Ek het die die Maboneng-besoekers by die Aardklopterrein ontvang en in die bussie op pad na Ikageng (die voormalige swart woonbuurt) het ek die Suid-Afrikaanse taallandskap geskets en verduidelik waar Afrikaans, Tswana, Sotho en Xhosa inpas – die tale wat in Potchefstroom en Ikageng gepraat word,” vertel Karien.
“Ek het ook die kultuurverskille uitgewys – hoe respek betoon word, hoe iets gegee en ontvang word en hoe naamgewing werk.”
Met die besoekers se aankoms in Ikageng het Ma Conny en die digter Tlholeho op hulle gewag en hulle het die geleentheid gekry om dig- en visuele kuns te ervaar in die huise wat Ikageng-inwoners in kunsgalerye omskep het.
“Die mense het nie net hulle huise oopgemaak nie, maar ook hul harte. Die mense wat Ikageng verlaat het, het teruggekom met ’n warmte in hul hart. Dit is wat gebeur as ouma Bessie en ouma Sheila jou onvoorwaardelik as hulle kleinkind aanneem. In ’n kwessie van 90 minute verander ‘hulle’ na ‘ons’.
Volgens Nita Cronjé, bestuurder: feeste en produksies, het hierdie projek mense uit hul gemaksone geruk. Om daar te wees en interaksie te hê met medelandsburgers, gee mense die geleentheid om te besef dat ons almal eenders is.
“Wat my veral opgeval het, is dat baie van die inwoners vlot Afrikaans praat.”
Tydens die rit terug het die besoekers gereflekteer op hul belewenis en ervaring.
“Ek het ná die tyd vir een van die groepe gevra om hul besoek in een woord op te som. Van my gunstelinge was die woorde ‘warmte’, ‘liefde’ en ‘hoop’,” vertel Karien.