Skip to the content

Taalgenoot gesels met Lucia Prinsloo oor Vegters

Lucia Prinsloo se roman Vegters, wat deur Wenkbrou uitgegee word, het lesers aan die gons. Lucia weef twee onwaarskynlike wêrelde perfek aanmekaar – Afghanistan en die Gamtoosvallei. Dis ’n kragtoer van vriendskap, trauma en uiteindelik oorwinning. Taalgenoot het met Lucia gesels oor die treffende boek.

Jou beskrywings van wapentuig en toerusting is geweldig oortuigend. Ek het in ’n stadium gesien ’n leser skryf dat sy gedink het die skrywer is manlik. Hoe het jy dit reggekry?
Ek sou nooit so ’n boek kon aanpak en oortuigend skryf as ek nie met soldate wat deel was van die oorlog in Afghanistan kon praat en uit hulle monde die feite kon hoor en verifieer nie. My eie seun was in 2006 en 2008, die tyd waarin die boek afspeel, deel van die Britse Valskermregiment. Hy was bereid om seker te maak dat elke stukkie toerusting en wapentuig wat ek beskryf, korrek is. Ek was gelukkig om ook in hierdie tyd in Engeland te woon en die media en internet was ’n onuitputbare bron van inligting.

Die verhaal is verlangs gegrond op jou eie seun se ervaringe in die Britse Leër. Hoe voel dit om ’n seun te hê wat in die vreemde baklei vir ’n ander land?Dis ’n baie relevante vraag. My seun het van jongs af gedroom om deel te word van die Valskermregiment van die Britse Leër, want hy het gelees en geglo dat om deel te wees van hierdie elite-regiment die toppunt sou wees van fisieke en geestelike fiksheid en deursettingsvermoë. Hy wou homself gaan toets, het hy altyd gesê. Hy wou bewys hy het dit wat nodig is om ’n valskermsoldaat te word. Die opleiding wás toe geweldig straf, maar hy het dit gemaak en toe volg die realiteite soos ’n joernalis dit beskryf het: The elite 3 Para Battle Group was despatched to Helmand Province in southern Afghanistan…

Vir ons as ouers was dit glad nie maklik nie veral omdat ons in daardie tyd woonagtig was in Engeland, en dus volkome deel was van alles rondom die offensief. Daar is oorspronklik geglo dat 3 PARA se taak in Afghanistan sou wees om sekuriteit aan die wankelrige demokrasie wat daar aan bewind gekom het te bied en rekonstruksie van die land te help bewerkstellig. Niemand het voorsien die Taliban sou met soveel mag terugkom en dat die hele offensief in ’n volskaalse oorlog sou ontaard nie. Ons het maar gedoen wat alle ouers in sulke omstandighede doen: pakkies weggestuur Afghanistan toe, en gebid. Ons was gelukkig. Ons seun het oorleef en woon en werk vandag in Suid-Afrika. Maar daar was baie wat nie so gelukkig was nie.

Hoeveel navorsing is daar gedoen gedurende die skryf van die boek?
Ontsaglik baie. Ons wat in Suid-Afrika woon, het vir jare gehoor van die oorloë in Irak en Afghanistan, maar dit het baie min mense direk geraak. Dit was dus ’n groot uitdaging vir my om ’n verhaal, in Afrikaans, met hierdie oorlog as agtergrond te skryf. Dit moes eenvoudig oortuigend en realisties wees en behalwe vir die stories van Suid Afrikaanse soldate wat ek persoonlik kon aanhoor en neerskryf, het ek álles waarop ek my hande kon lê, gelees en bestudeer. Die offensief in Afghanistan was nie net ’n Britse offensief nie. Baie ander lande, waaronder Amerika natuurlik, was ten volle betrokke en elke nuusberig van elke koerant was en is op die internet beskikbaar. ’n Britse joernalis, Patrick Bishop, het lang tye saam met 3 PARA in die oorlogsone deurgebring. Hy het 2 boeke, spesifiek oor 2006 en 2008, die lig laat sien: 3 PARA: Afghanistan, Summer 2006, This is war en Ground Truth: 3 Para return to Afghanistan. Hierin het hy die feite van die offensief weergegee, en dit was vir my ’n reusebron van inligting.

Was dit moeilik om die gewelddadige dele in die verhaal te skryf? Hoe verwyder jy jouself daarvan – of is dit onmoontlik vir ’n skrywer?
Dit wás moeilik, want baie hiervan is deur my seun en ander soldate aan my vertel en ek het geweet hulle was in baie gevalle ooggetuies. Daarom weet ek Vegters is eg en eerlik. Maar daar is ook baie insidente waarvan ek gelees het, en waarin ek my kon inleef en wat ek kon gebruik. Ek dink tyd verwyder ’n mens daarvan. Ek kan myself distansieer omdat ek nie dáár was nie, maar die soldate self loop ’n ander pad. Daarom is posttraumatiese stressindroom ’n werklikheid. Omdat ek as skrywer ’n verbeelding het, kon ek my volkome inleef in my karakters se ervarings dat ek namens hulle spanning en angs beleef het.

Wat het jou oortuig dat dié twee wêrelde in die boek (die Gamtoosvallei en Afghanistan) sal werk in dieselfde storie?
Die roeisport was nog altyd deel van ons gesin se lewens. Ek het my man, Dappie, letterlik leer ken met ’n boot op sy kar se dak, en vandag is dit nog so. Hy en hierdie einste seun van my wat ’n soldaat geword het, het nog altyd saam geroei en my man het omtrent elke rivier in ons land al geroei. Ek het dus my kinders langs die roeiwaters grootgemaak en natuurlik self ook geroei. Omdat ons in Jeffreysbaai woon, speel die Gamtoosrivier ’n groot rol in ons lewens: dis naby, die water is skoon en dit is asemrowend mooi in die Gamtoosvallei. Vegters is ’n boek van kontraste. Die hoofkarakters word gekonfronteer met ongelooflike kontraste tussen die wêreld waar hulle vandaan kom, en die wêreld waarin hulle hulself tydens die oorlog bevind. Ek het net op ’n dag langs die Gamtoos gestaan en geweet dit is die plek waarvandaan my karakters moet kom. Omdat ek soveel jare soveel tyd as “second” langs riviere tydens roeiresies deurgebring het, het ek gesien hoe roei kameraadskap, deursettingsvermoë en oorwinning versinnebeeld.

Wat behels jou skryfproses? Pak jy dit as ’n projek aan? D.w.s. met ’n notaboek, stemopnames op jou foon, ens.? Of sit jy net en laat die verhaal jou lei
Nee, ek weet nogal presies wat die storielyn moet wees. Ek weet wat die kern is: die begin, die middel en die einde. Dan volg die navorsing en die dink en die droom om die verhaal sy lyf en karakter te gee, en daar gebeur nogal partykeer verrassende dinge – selfs vir my! Soms kom ’n karakter te voorskyn waarvan ek nie geweet het nie, of ’n interessante kinkel in die storie kom meld aan. Dis geweldig opwindend.

Watter skrywers se werk lees jy? Plaaslik en internasionaal?
Ek lees nogal wyd, en het nie net spesifieke genres waarin ek belangstel nie. Plaaslik is ek ’n groot aanhanger van Marguerite Poland. Haar boek Shades het ’n geweldige indruk op my gemaak en meer onlangs was The Keeper, of soos in Afrikaans vertaal, Die Bewaker, ’n briljante leeservaring. Ook Marie Heese is ’n inspirasie. Sy neem werklik navorsing tot op die volgende vlak. Haar boeke The Colour of Power: A Story of Theodora, Empress of Byzantium en Vuurklip getuig daarvan en ek het albei baie geniet. Natuurlik kan ek nooit oor plaaslike skrywers praat sonder om PG du Plessis (Fees van die Ongenooides) en Dalene Matthee se bosboeke te noem nie. Meer onlangs het ek Jeanette Ferreira se Bloedlelie geweldig geniet, en lees ek ook Deon Meyer, Irma Joubert, Karin Brynard en nog vele meer. Internasionaal het ek Khaled Hoeseini se boeke oor Afghanistan natuurlik gelees, en hou ek baie van Ronald Balson se The Girl from Berlin en The Trust. Ek is mal oor Conn Iggulden se Conquerer- en Emperor-reekse. Maar daar is so baie ander wat blywende indrukke gemaak het: die aangrypende All the light we cannot see deur Anthony Doerr en The Book Thief deur Markus Zusak (sy onlangse Bridge of Clay is ook ’n fassinerende boek). Daar is so baie skrywers se boeke wat ek graag lees en nog graag wil lees! Hopelik, wanneer ek die dag aftree, sal ek net kan sit en lees!

Wat beplan jy volgende? Is daar nog ’n storie in die pyplyn?
Ja, daar is ’n storie in die pyplyn. Die begin, die middel en die einde reeds in my kop, maar die navorsing, die dink en droom en fisieke werk lê nou voor. Ek is baie opgewonde daaroor, en al wat ek kan verklap is dat die storie, soos Vegters, in ’n onbekende gedeelte van ons wonderlike land gaan afspeel.