Skip to the content

Uittreksel: Koeke en terte deur Susan Coetzer

In Koeke en terte moedig Susan Coetzer jou humoristies aan om uit te rys tot die beste weergawe van jouself – of jy nou koekerig of terterig of iets tussenin is. Nie een van ons is volmaak nie; daar is altyd ruimte vir groei. Veral in naasteliefde, deernis en aanvaarding. Daar is so baie verskillende koeke en terte en koekies en happies... vind uit watter een jy is.

2. Sponskoeke

Hoe identifiseer jy ’n plein, droë sponskoek in ’n saal vol vroue? Dis moeilik, want Sponskoeke het die neiging om ander vroue se eienskappe op te suig soos ’n spons eerder as om hulle uniekheid uit te leef. Gooi karamel oor ’n sponskoek en die sponskoek word ’n karamelkoek. Dieselfde gebeur wanneer jy sjokolade of vla gebruik.

Sponskoeke kruip graag agter ander meer baldadige en uitgesproke vroue weg. Hulle verkies om nie opvallend te wees in ’n groep nie en dra graag kamoefleerpakkies in skakerings van beige of bruin wat hulle maklik met die agtergrond laat saamsmelt. Selfs hulle skoene is gewoonlik beige of bruin en ryg meestal toe met veters, soos skoolskoene.

Hulle haarstyle is deel van die incognito-strategie. Dis prakties en verg min instandhouding en trek min aandag. Kuiwe is wel gewild, want dit steek al een-derde van hulle gesigte weg. Sponskoeke het nooit uitspattig gekleurde of flambojante salonkapsels soos ander in die saal nie.

Hierdie vroue het egter baie pluspunte, en besondere goeie maniere is een daarvan. Hulle is altyd die minste en druk nie soos voorbarige Tipsyterte voor in die ry by die kostafel of die boeketafel in nie. Hulle staan koponderstebo en doodstil heel agter in die ry en wag geduldig hulle beurt af. Wanneer hulle uiteindelik voor my staan, praat hulle so sag en verskonend dat ek my ore regtig moet spits om kan te hoor wat hulle sê.

Sponskoeke glo nie in hulleself nie. Hulle bestaan feitlik net uit vrees, onsekerheid en senuwees. Dit maak my so hartseer, want ek self was ook ’n skaam, jammer-dat-ek-leef-vrou, iemand wat verkies het om in ander suksesvolle vroue se skadu te leef. Tot ek uit die boks geklim en my potensiaal begin ontwikkel het. Hoe? Deur ’n paar nuwe wenbestanddele by my resep te voeg soos die Meesterbakker dit aan my geopenbaar het.

Ek gesels graag met ’n Sponskoek wanneer ek ook al die kans kry. “Wat is jou natuurlike passie, talent of gawe?” is een van my beste aanknopingspunte. Gewoonlik staan die Sponsie dan verstom daar met ’n mond vol tande.

“Ek weet nie … daar is nie regtig iets waarin ek uitblink nie.”

“Daar móét iets wees,” moedig ek haar dan aan.

“Nee wat, ek het nie talente gekry om oor te spog nie. Ek is maar net ’n plein huisvrou vir my man en my kinders. Kook ’n bietjie, maak huis skoon en so aan …”

Op hierdie beskeie noot sal ’n uitgesproke vriendin (gewoonlik ’n rondborstige Melktert) dikwels intjip met ’n klip in die bos. “Hierdie vrou is vrot van die talent,” sal die Melktert uitbulder sodat die hele saal dit kan hoor. “Sy kook vyfsteretes vir ’n hele rugbyspan en doen lieflike naaldwerk en blommerangskikkings. Sy het ons tafel so mooi versier. Sy is so beskeie, ek wil haar sommer stamp dat sy kan bykom.”

“Sy oordryf regtig,” sal die Sponskoek antwoorde en skaam afkyk na haar hande met die kortgeknipte naels. “Ek het sommer net ’n paar tuinblommetjies in die water gedruk. Julle is die glansvroue met die ware talente en gawes, nie ek nie. Ek is regtig ’n doodgewone huisvrou. Niks spesiaals aan my nie.”

Herinner hierdie oorbeskeie, skaam vrou, wat haarself gedurig in geselskap as die stert eerder as die kop posisioneer, jou dalk ’n bietjie aan jouself? Sponskoeke glo nie in hulle potensiaal om wenners te wees nie. Maar dit hoef nie so te wees nie. Met ’n paar kopskuiwe en nuwe gewoontes kan die meeste Sponskoeke hulle ware identiteit ontdek en met selfvertroue begin leef. Dit vra egter van ’n Sponskoek om bereid te wees om haar oop te stel vir die ongemak van vernuwing. No pain, no gain.

Jy sal jou ou denke oor jouself as ’n plein droë Sponskoek in die asblik moet gooi, jou kamoefleerdrag moet uittrek en dit moet waag om jou volle potensiaal as eiesoortige wenvrou aan te trek.

Hoe weet jy of jy ’n Sponskoek is, of ’n bietjie soos ’n Sponskoek? Is jy besonder skaam, geïnhibeerd en sonder selfvertroue? Beskou jy jouself as minderwaardig wanneer jy tussen uitblinkervroue is? Kyk jy met verwondering na ander vroue se gawes eerder as om jou sterkpunte te ontgin? Vorm jy jou menings volgens wat ander dink en sê? Is jy bang vir konflik? Is jy bang vir foute maak en om te misluk? Hou jy baie van jou talente en gawes en ’n groot deel van jou persoonlikheid onontgin onder die maatemmer weggesteek?

Die meeste van ons het ’n stukkie Sponskoek iewers in ons. Ek het beslis. Sponskoek is nie ’n slegte bestanddeel nie. Dit het baie pluspunte as dit nie die heel grooste deel van jou samestelling oorheers nie. ’n Sponskoek is sag, sensitief, oop en ontvanklik vir nuwe opinies en invloede, net soos ’n badsponsie wat die seepwater opslurp.

Ons almal het mekaar nodig om soms ontvanklike sponsies te wees vir nuwe en opbouende invloede op ons lewenspad sodat ons kan groei na emosionele en geestelike volwassenheid. In die Bybel lees ons dat Lidia ’n oop sponshart vir Paulus se boodskap gehad het. Dit het daartoe gelei dat sy ’n volgeling van Jesus geword het en gedoop is.

Nie alle invloede (selfs dié van vriende of gelowiges) is noodwendig goed of reg vir jou om jou volle potensiaal te verwesenlik nie. Sommige invloede is skadelik wees, jou geesdrif demp en jou van koers af ruk. Ek onthou toe ek in graad 10 was en ’n onderwyser my ná my eerste getuienis voor ’n groep leerders oor die vingers getik het. “Jou getuienis was treffend,” sy gesê, “maar moet in die vervolg nie humor daarby inmeng nie. Jou getuienis moet net ernstig wees.” Sponskoeke het baie liefdevolle aansporing en ondersteuning nodig om hulle sterkpunte en identiteit te ontdek, nie hierdie soort negatiewe opmerkings nie.

Vandag is ek nie meer ’n Sponskoek wat alles wat ander sê vir soetkoek opeet nie. Ek weet humor is deel van my DNS. Dit is ’n talent wat ek ontvang het en ek gebruik dit graag om ander se gemoed te lig en brûe te bou tussen uiteenlopende mense.

My raad aan Sponskoeke is: Wees oop en ontvanklik vir ander se aanbevelings, maar wees ook ’n waaksame hekwagter voor jou welstand. Stel gesonde grense. As jy twyfel oor iemand se raad of invloed, vra God vir meer onderskeidingsvermoë. Maak seker die mense wat jy by jou invloedsweer inlaat, onderdruk nie jou natuurlike en egte eienskappe en jou unieke persoonlikheid, identiteit en styl nie. Jou missie moet wees om die beste weergawe van jouself te word – nie ’n afskrif van iemand anders nie.

Word wie jy veronderstel is om te wees. Daar is ’n Meesterplan wat jou soos ’n handskoen sal pas. Soek totdat jy dit kry. Trek dit aan. Dit sal gemaklik aan jou sit en jou nie krap of skaaf of knyp nie.

Jou eerste stap en verantwoordelikheid is egter om jou geskenkpakkie oop te maak en jou vermoëns en vaardighede wat die Here vir jou gegee het te ontwikkel. Ontdek en ontwikkel jou unieke kombinasieresep. Dit sal van jou vra om op jou selfbewussyn te fokus in plaas van die groepbewussyn, wat voorheen jou instinktiewe reaksie en gemaksone was.

Bemoediging en wenke vir Sponskoeke

Spons gerus die idees en menings van ander wyse mense op, maar leer ook om al die inligting te sif. Behou net wat jou gemaklik laat voel. Moenie ander se opinies of sienings uit gewoonte opslurp nie. Sponse raak soms lui om self te dink. Leer daarom om selfinnoverend, kreatief en vernuwend te wees. Bring ook jou eie idees na die partytjie toe, hoe vreemd of simpel dit ook al vir jou klink. As jy bang is om hardop voor mense te praat, skryf dit net eers neer.

Waag dit om bewustelik uit jou sponsieboksdenke te ontsnap. Só sal jy word wie jy veronderstel is om te wees, in plaas van net ’n copy of ’n fan van iemand anders. Moenie ongeduldig wees met jouself nie. Jy sal nie oornag in ’n dapper mens met baie selfvertroue verander nie. Gee babatreetjies vorentoe. Stel vir jou haalbare doelstellings. As jou idee afgeskiet word, staan op en gaan soek verder.

Sponskoeke is dikwels bang vir kritiek. Ek was ook, maar het intussen geleer dat kritiek dikwels ’n geskenk is om groei aan te moedig. Dink aan die song “Titanium” van David Guetta. (Gaan luister weer na die woorde.) Dit het my al so dikwels geïnspireer om dit as skaam en onseker vrou te waag op my kreatiewe pad én op my geloofspad. En wanneer my manier van dink of doen buite die bekende boks afgeskiet word, staan ek maar net weer op en herskep myself van voor af.

Wees dapper, wees sterk, wees vasberade en wees doelgerig om jóú volle potensiaal in God te verwesenlik.

Slypskool vir Sponskoeke

Dink oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

  • Is jy ’n Sponskoek? Motiveer jou antwoord.
  • Het jy sommige van die eienskappe van ’n Sponskoek?
  • Wat is jou sterkpunte?
  • Wat is jou swakhede?
  • Wat is jou natuurlike talente?
  • Wat is jou geestelike gawes, geïnspireer deur die Gees van die Here?
  • Wat is jou drome?
  • Wat is jou passies?
  • Hoe lyk die nuwe jy waarin jy wil verander?
  • Watter bestanddele wil jy uit jou huidige resep weglaat?
  • Watter nuwe bestanddele wil jy byvoeg om die beste jy te word?
  • Wat is vir jou haalbare doelwitte vir hierdie week, hierdie maand, hierdie jaar?
  • Wat is jou lewenstaak as jy dink aan die kombinasie van al jou geestelike gawes, natuurlike talente en sterkpunte wat die Here spesifiek in jou geskenkpakkie geplaas het om die wêreld mee te verryk?

Die Woord vir Sponskoeke

  • 2 Timoteus 1:7
  • Josua 1:9
  • Filippense 4:13
  • Jesaja 49:1-6

Stilwordtyd by God vir Sponskoeke

Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:

  • Wat het my getref? Bid daaroor.

Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:

  • Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?
  • Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?
  • Hoe kan ek my hart – teenoor myself én my medemens – prakties verruim?

Slypskool vir almal wat saamreis

Dink oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

  • Hoe voel ek oor Sponskoeke?
  • Hoe hanteer ek hulle?
  • Hoe kan ek hulle bemoedig en help om hulle volle potensiaal te bereik?
  • Hoe wil die Here hê moet ek Sponskoeke hanteer?

Die Woord vir almal wat saamreis

  • 1 Korintiërs 13:4

Stilwordtyd by God vir almal wat saamreis

  • Wat het jy in hierdie verse oor naasteliefde geleer?
  • Wat sê die Here vir jou?
  • Hoe kan jy dit prakties toepas?
  • Het jy enige lightbulb-oomblikke beleef?

Koeke en terte is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op NB-uitgewers.