Wenners van 1ste Tjokkertoneel aangewys
’n Gevoel van hoop. Hoop vir die kunste, en hoop vir ons land se toekoms.
Dit was die reaksie van die gehoor aan die einde van die vier streekfeeste (Krugersdorp, Stellenbosch, Bloemfontein en Port Elizabeth) van ATKV-Tjokkertoneel, sê Lizané Basson, projekorganiseerder van dié projek.
Dit is vanjaar die eerste keer in die geskiedenis (van amper 90 jaar) van die ATKV dat klein, voornemende teater-rakkers ook hulself op die verhoog kon uitleef in spreekkore en mini-tonele. ATKV-Tjokkertoneel is ’n nasionale platform vir talentontwikkeling ter viering van, en opbou van laerskoolkinders, deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig.
"Ons is dankbaar vir die gesindheid waarmee dié projek ontvang is deur skole, afrigters en ouers! Die items was almal kindervriendelik en gehoorlede het met ’n gevoel van hoop weggestap. Hoop vir die kunste, en hoop vir ons land se toekoms,” sê Lizané.
Daar het 30 items opgetree by die vier streekfeeste: 6 junior spreekkore, 8 senior spreekkore en 16 mini-toneelopvoerings.
Die beoordelaars by al die streeksfeeste was Schoemé Grobler, Ira Blanckenberg en Esté Pienaar.
Die uitslae is soos volg:
Junior spreekkore
1. Eduplus Onafhanklike Skool (Bloemfontein) met Die dag toe Ernst ʼn ertjie geëet het.
2. Laerskool Muldersdrift (Krugersdorp) met Groente gedoentes
3. Oranje Meisieskool Primêr (Bloemfontein) met Monster!
Senior spreekkore
1. Laerskool Randfontein met Ons eie Mary Poppins
2. Laerskool Muldersdrift met Skool is nie vir sissies nie
3. Laerskool Roodekrans (Roodepoort) met Die Duisendpoot
Mini-tonele
1. Laerskool Anton van Wouw (Pretoria) met Kamerverlaat
2. Laerskool Bastion (Kaapstad) met Nie net ʼn verbeel(ding)
3. Laerskool Menlopark (Pretoria) met S(kerm)