Skip to the content

ATKV belê in betowerende koorfees

Die ATKV het met sy nuutste borgskap van die KUESTA-koorfees bewys dat die organisasie die belange van kultuur en koorsang op die hart dra.

“Die ATKV is al vir baie jare betrokke by koorsang met nasionale projekte soos ATKV-Applous, ATKV-koorfees en ATKV-Animato,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV.

“By KUESTA kry die ATKV ʼn geleentheid om saam met ses universiteite koorsang en die vriendskappe wat deur baie jare gesnoer is te vier.”

KUESTA is ’n tweejaarlikse byeenkoms van die voorste Suid-Afrikaanse universiteitskore, en word op 21 September by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus aangebied.

“Meeste van die studente se koorsangloopbaan het by ’n ATKV-koorprojek begin. KUESTA is die volmaakte manier om die sirkel te voltooi,” sê Gerrie.

Volgens Gerrie sal ’n koorfees soos KUESTA nie moontlik wees sonder borge en die bystand van die ATKV nie.

“Dit is ’n voortsetting van die investering wat die ATKV in jongmense se lewens maak.”

Die publiek kan vanjaar uitsien na ’n verskeidenheid koorsang deur kore van Stellenbosch, Port Elizabeth, Bloemfontein, Potchefstroom, Johannesburg en Pretoria.

“Dit is nie elke dag wat jy ses universiteitskore op een verhoog gaan sien nie,” sê Jaco van der Walt, een van KUESTA se bestuurslede en hoof van NWU Kunste by die Potchefstroomkampus.

Volgens hom lê die toorkrag van KUESTA in die feit dat dit ’n fees is en nie ’n kompetisie nie.

“Die koorlede sing vir mekaar en vorm ongelooflike vriendskappe en herinneringe.

“Dit behoort ’n hoogtepunt op enigiemand se kunstekalender te wees.”

Kaartjies vir die fees kan by Tixsa gekoop word.