Skip to the content

Die Pretoria FM-boekefees in samewerking met Beeld en die ATKV het die perfekte geleentheid gebied om juwele uit die skatkis van ons taal te ontgin. Die fees het oor drie dae plaasgevind en die doel van die fees was om die skatte in Afrikaanse letterkunde na die hoofstad te bring en dit vir elkeen toeganklik te maak. Taal word op baie verskillende maniere oorgedra en tydens die Boekefees kon feesgangers ons taal in verskeie vorme geniet: aktuele gesprekke, letterkundige gesprekke, kookdemonstrasies, kindervermaak, teater, musiek en film.

Van ons land se topskrywers het gehore op die punt van hul stoele gehou. Tydens boekgesprekke kon feesgangers met onder andere Bernette Bergenthuin, Johan Jack Smith, Madelein Rust, Zelda Bezuidenhout en Dibi Breytenbach oor hul jongste boeke gesels.

Armand Aucamp, Riana Mulder en Herman Lensing het gewys dat ons nie net lees in ons taal nie, maar ook daarin kook. Hul kosdemonstrasies het feesgangers se monde behoorlik laat water terwyl hulle inspirasie en wenke vir smullekker kos gedeel het.

Ronnie die Renoster en sy maat Riki het elke dag saam met kinders gesing en gedans. Hulle het ook gesorg dat kinders weet hoe belangrik lees is en het hulle gewys hoe om hul boeke mooi op te pas. By die Arrie Boekiehoekie is daar verder gelees, gespeel en ingekleur.

Die fees het ook gesorg vir opvoedkundige geleenthede vir ouers, onderwysers en enige belangstellendes. Die Vriende van Afrikaans (VVA), ʼn divisie van die ATKV, het tydens die fees twee voorleeswerkswinkels en ʼn leeskonferensie aangebied wat gefokus het op die belangrikheid van lees, die kweek van ʼn leeskultuur, voorlees en moedertaalonderrig. Joyce West en Jo-Riëtte Jacobs het ook ʼn gratis sessie oor navorsingswoordeskat vir onderwysers aangebied.

Afrikaanse vermaak was volop by die fees. Hannes van Wyk was terug op die verhoog met ʼn drama waar die lag en die traan baie na aan mekaar lê. Sê groete vir ma was op Vrydag 13 September op die planke by die Ooskerksaal. Feesgangers kon ook die albumvrystellings van twee van ons land se gewildste Afrikaanse kunstenaars, Leah en Robbie Wessels, gratis bywoon.

Die fees is op ʼn hoogtepunt afgesluit met ʼn ATKV-Inkstoriesgesprek waartydens een van die mees verwagte Afrikaanse films van 2019 bespreek is. Die verhaal van Racheltjie de Beer begin in Oktober 2019 in Suid-Afrikaanse rolprentteaters draai en die vervaardiger, Sallas de Jager, het die gehoor ʼn kykie agter die skerms gegee. Zonika de Vries, wat die rol van Racheltjie in die film vertolk, het ook haar ervaring gedeel. Ná die gesprek is die film vir die eerste maal in Pretoria vertoon en die gehoor was deur dié bekende Afrikaanse verhaal meegevoer.

Ná die reusesukses van die eerste Pretoria FM-boekefees, weet ons dat hierdie fees ʼn jaarlikse hoogtepunt op die kalenders van Gautengers sal word. Die ATKV sien reeds daarna uit om in 2020 weer ʼn vennoot te wees en in ons taal fees te vier.