Skip to the content

ATKV-Tjokkertoneel: “Hierdie is baanbrekerswerk”

Dit is vanjaar die eerste keer in die geskiedenis (van amper 90 jaar) van die ATKV dat klein, voornemende teater-rakkers ook hul talente op die planke kan bring en die reaksie op die eerste ATKV-Tjokkertoneel was verbysterend.

“Ek is histeries opgewonde hieroor!” sê die dramaturg en toneelafrigter, Alma Nel.

“Ek het ’n oproep gekry waartydens die persoon vir my gesê het: ‘Hoekom het niemand al vantevore hieraan gedink nie?’ En dit bly my by – want dit sê vir my daar is ’n behoefte, die mark is reg hiervoor en dat die ATKV ’n kolskoot tref,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder by die ATKV.

Daar is 30 items ingeskryf by die vier streekfeeste wat tydens die heel eerste jaar van Tjokkertoneel aangebied word: 6 junior spreekkore, 8 senior spreekkore en 16 mini-toneelopvoerings.

Tjokkertoneel bied laerskoolleerders uiteindelik die geleentheid om op ’n verhoog op te tree en stories te vertel in ’n struktuur of platform met die doel om uiteindelik liefde vir teater te kweek.

“Dis die opregte kinderharte en oortuiging waarmee die kinders hulself uitleef met die projek, wat iets is om te aanskou,” sê Lizané. Volgens haar streef die jong teatergeselskappe reeds daarna om volgens die standaard van Tienertoneel te speel. “Die toewyding onder laerskoolkinders is ’n riem onder die hart.”

Intussen het die nuwe inisiatief wye reaksie ontlok.

“Hierdie is baanbrekerswerk van die ATKV,” meen die dramaturg, Pierre-André Viviers.

Ook Retha Pool, ’n onderwyser van Oranje Meisieskool, is opgewonde oor ATKV-Tjokkertoneel. “Die nuwe projek is amazing. So baie skole gaan halleluja skree.”

Die beoordelaars vir ATKV-Tjokkertoneel is Schoemé Grobler, Ira Blanckenberg en Esté Pienaar.

“As jy as liefhebber van die kunste, ’n ouer, grootouer of kinderteaterentoesias die nuwe generasie stemme wil beleef – maak seker jy woon ’n streekfees by. Dit is waar jy die verandering wat die land nodig het, sal sien en wegstap met ’n kruiwa vol hoop,” sê Lizané.

Die streekfeeste is soos volg:

  • 20 en 21 September by Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
  • 28 September by die Adam Small-teater in Stellenbosch
  • 4 Oktober by Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein
  • 5 Oktober by Hoërskool Framesby in Port Elizabeth

Kaartjies is te koop by die deur teen R30 per volwassene en R10 per kind. Slegs kontant.

Vir meer inligting skakel Lizané Basson by 011 919 9078 of e-pos lizaneb@atkv.org.za.