Skip to the content

Die ATKV bemagtig teaterskeppers by vanjaar se Aardklop

Wat agter die skerms by ’n teaterproduksie gebeur, is net so belangrik soos die gebeure wat voor die gehoor op die planke afspeel. Die mense wat agter die gordyn seker maak dat die kostuums reg is, die beligting werk en die regte musiek gespeel word, verdien ook ’n luide applous van die gehoor.

Individue wat deel wil wees van die tegnologiese wonderwêreld van die teater kan die teatertegnologiekursus tydens vanjaar se Aardklop bywoon en eerstehands kennis maak met die aspekte van teatertegnologie en die teaterbedryf. Persone wat reeds ondervinding het, kan hulle bestaande kennis en vaardighede opskerp. Kursusgangers kan dus uitsien na leiding in onder meer algemene teateroriëntering, verhoogbestuur, klank en beligting.

Elke kursusganger sal ook ’n sertifikaat van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Instituut vir Kunsbestuur en Ontwikkeling ontvang.

“Die ATKV, Aardklop en Artema lei teatertegnici op om werkskepping te stimuleer en om te verseker dat goed opgeleide tegnici aangestel word in teaters en by kunstefeeste,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur, by die ATKV.   

“Die tegniese aspekte in ’n teater en op ’n verhoog dra saam met die akteurs by tot die verwerkliking van ’n nuwe wêreld.”

Gerrie verduidelik verder dat die kursusgangers deur middel van dié kursus “geleentheid kry om hulle talente op ’n georganiseerde manier te ontdek en te ontgin”.

Volgens Nita Cronjé, bestuurder: kunste en feeste, by die ATKV is dit belangrik dat dié organisasie intensief betrokke is by kunstefeeste deur mense te bemagtig.  

“Die feeste is ’n strategiese bymekaarkomplek van alle rolspelers in die groter kultuurlandskap waarbinne die ATKV funksioneer.

“Deur die kunstefeeste word nuwe werk in Afrikaans geskep wat die taal se voortbestaan verseker, en waardeur die publiek hulle eie stories kan beleef, asook dié van ander.”

Sy meen die kunstefeeste is veel meer as net kortstondige kunstemakieties.

“Die fokus is toenemend op volhoubaarheid, gemeenskapsimpak en opleiding, alles deur die kunste.”

Vir navrae oor die teatertegnologiekursus van die ATKV, Artema en Aardklop kan Gerrie Lemmer gekontak word by GerrieL@atkv.org.za.