Skip to the content

Kom slyp jou vaardighede by hierdie ATKV-Redenaarskursusse

Dit is gewoonlik die ouers en onderwysers wat in ’n koue sweet uitslaan wanneer hulle die woord, redenaars, hoor.

Skielik moet jy skarrel om jou rakker te help met die skryf van ’n toespraak, en as onderwyser moet jy jou lyf beoordelaar hou.

Maar nou kan leerders, ouers, onderwysers en afrigters al die hulp en gereedskap by die Voorbereidingskursus en die Beoordelaarskursus kry wat spesiaal gerig is op die ATKV-Redenaarskompetisie.

Jy kan kies of jy die voorbereidings- of beoordelaarskomponent van die kursus wil bywoon.

Die Voorbereidingskursus vir ATKV-Redenaars word vir graad 6- tot graad 12-leerders, onderwysers, ouers en afrigters aangebied. Hierdie kursus handel grotendeels oor die voorbereiding van die voorbereide en onvoorbereide toespraak van die ATKV-Redenaarskompetisie.

Die Beoordelaarskursus vir ATKV-Redenaars word vir hoërskoolleerders, onderwysers, ouers, afrigters en beoordelaars aangebied. Dié kursus handel oor die inhoud, reëls, voorbereiding en beoordeling by die ATKV-Redenaarskompetisie. Slegs leerders wat in matriek is, kan kwalifiseer as beoordelaars.

“Die kursusse is so uiteengesit om nie net vir leerders nie, maar ook vir ouers en onderwysers die nodige leiding te gee om ’n goeie toespraak te kan skryf en ook om te weet hoe mens so ’n kompetisie moet beoordeel,” sê Erika Jansen van Rensburg, die kursusaanbieder.

“Onderwysers dink ook dat die beoordeling ’n maklike taak is, maar hulle besef gou dat dit baie uitdagend kan wees as jy nie weet waarna geluister en opgelet moet word nie.

“Met hierdie kursusse leer leerders, ouers, onderwysers, afrigters en beoordelaars nie net nuwe en belangrike vaardighede aan nie, maar hulle kennis oor die reëls van die kompetisie word ook opgeskerp.”

Die Beoordelaarskursus is deur SARO (die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders) geëndosseer en het ’n waarde van 10 CPD-punte.

Onderwysers kan op die dag van die kursus hulle SARO-registrasienommer saambring om die register te voltooi.

Inskrywingsgeld

  • Voorbereidingskursus: R100 per leerder en R140 per volwassene.
  • Beoordelaarskursus: R200 per leerder en R300 per volwassene.

Albei die kursusse word op 19 Oktober 2019 by Hoërskool Vryburg in die Noordwesprovinsie aangebied.

Kontak vir Melanie Marais by 011 919 9015 of per e-pos by melaniem@atkv.org.za vir meer inligting.