Skip to the content

Kom vier saam fees in Geluksdal!

Die gemeenskap van Geluksdal en die ATKV vier saam fees Saterdag 28 September 2019.

Nog nooit vantevore is daar feesgevier soos wat dit gedoen sal word tydens Geluksdal se Kuns-Kultuur-en-Erfenisfees by die Geluksdal-stadion in Uittogstraat nie.

Feesgangers kan kunsuitstallings en optredes geniet om die siele te voed, terwyl daar ook ’n wye verskeidenheid stalletjies sal wees met iets te drinke en te ete sodat die liggame ook gevoed kan word.

Optredes deur Mi-Casa en ’n rits hiphop- en ander kontemporêre kunstenaars bied vermaak deur die dag met boonop nog ’n trompoppievertoning en onder meer  Zoeloe-, Khoisan- en Tsonga-dansgroepe wat met hulle kultuur kom spog.

Daar wag ook ’n biertuin, ’n vermaakarea vir die kinders, karwas en selfs gesondheidsprogramme wat aangebied sal word.

Uitnodiging aan plaaslike liedjieskrywers
Die ATKV nooi ook graag alle voornemende liedjieskrywers om van 09:00 tot 12:00 oudisies te doen by die Geluksdal Sekondêre Skool. Die uitblinkers staan ’n kans om deel te word van ATKV-Crescendo se mentorprogram wat al talle nuwe kunstenaars ’n hupstoot gegee het op die pad na sukses.

Uitnodiging aan kore
Die ATKV gaan ook oudisies hou vir kore wat graag wil deelneem aan ATKV-Harmonie, ’n kompetisie vir kore. Kore wat tydens die oudisies gekies word, sal die werkswinkels kan bywoon en dalk ook deurdring na die uitdunne van 2020. Dit beteken dat hulle moontlik by die groot finaal van hierdie projek kan optree tydens die Suidoosterfees in Kaapstad.

Die beoordelaars vir die oudisies van die liedjieskrywers en kore is die bekende hiphopkoningin en Ghoema-wenner, YOMA, Rumacques van Pasella, Die Hooflig, in die Kaap bekend as die godfather van Afrikaanse hip-hop, asook Chester Meyer, die koorspesialis.

Kore en liedjieskrywers wat tydens die oudisies gekies word sal die middag van 28 September ook die verhoog deel met hierdie topkunstenaars. ’n Opwindende gesamentlike vertoning word gehou saam met ATKV-rieldansspanne van Betjiesfontein en Vredendal asook nuwe rieldansgroepe van Gauteng wat in die dae voor die fees opleiding sal ontvang in hierdie tradisionele kulturele dansvorm.

Die hekke maak om 10:00 die oggend oop, en die toegang is R20 vir volwassenes en R10 vir kinders.

Kontak vir Melany Andrews by 072 020 2284 of by andmel123@gmail.com vir meer inligting of vir inskrywingsvorms.

Sien jou daar!