Skip to the content

Rieldans sommer in jou eie huis met die nuwe Rieldans-DVD

Vir baie is die ATKV-Rieldanskompetisie dié hoogtepunt op hulle kalender, maar dit is net jammer die vlerksleep en askoektrap gebeur net een keer ’n jaar.

Maar nou kan rieldansaanhangers al hierdie opwinding oor en oor tuis beleef en sommer self ’n paar passies ingooi want die ATKV stel eersdaags met trots die eerste Rieldans-DVD bekend.

“As jy wil weet waarmee die ATKV se Erfenisafdeling bedrywig is, sal hierdie DVD jou ’n goeie idee gee,” vertel Morné van Staden, projekorganiseerder by die ATKV.

“Die DVD bevat nie net die semifinale ronde en die groot finaal van 2018 se Rieldanskompetisie nie, maar daar is ook bonusmateriaal van ander projekte wat wys wat die ATKV die heeltyd doen om nuwe talent te ontdek, te ontgin en te ontwikkel.”

Volgens Morné bevat dié DVD ook materiaal van die Rieldansfinaal se voorprogram en daar is interessante onderhoude met finaliste, kunstenaars en lekker musiek.

“Dis propvol teen ’n baie bekostigbare prys.”

Morné sê dit is die eerste van ’n reeks DVD’s wat die ATKV gaan bekendstel en die 2020-reeks beloof om nog meer inhoud te bevat.

“Die gedagte is om vermaak én realiteit met die DVD’s te bied sodat mense saam met die genot ’n meer volledige prentjie kan kry van die wonderlike werk wat deur die ATKV gedoen word.

“Die samestelling van DVD’s oor projekte van die Erfenisafdeling, die opnames en verwerking daarvan ondersteun ook die entrepreneurskapdoelwitte van die afdeling aangesien studente en amateurfilmmakers gebruik word om hierdie werk te verrig. Hulle kan dit dan ook vir hulle praktiese eksamen gebruik,” sê hy.  

Die dubbel-DVD kos R100 en kan bestel word by Ronel Vorster van die ATKV se streekskantoor in Stellenbosch: ronelv@atkv.org.za of bel haar by 021 880 1761.