Skip to the content

Uittreksel: Boomwortels in die hemel deur Pierre du Plessis

Boomwortels in die hemel handel oor die koninkryk van God wat op 'n heel ander manier werk as wat mense werk. Wanneer ons na Jesus se lering en stories, in die maatskaplike en politiese konteks van sy tyd kyk ontbloot dit 'n heel ander perspektief. 'n Perspektief wat ongemaklik, selfs irriterend, tog steeds lewegewend is. Hierdie koninkryk wat alles op sy kop kom draai het, of eintlik weer regop gedraai het, is waar ons, ons menslikheid herontdek. 

Almal wil gesien word.

Dit klink soos die begin van ’n liedjie van Heuwels Fantasties. Ons almal wil gesien word en van geweet wees.

Gisteraand sit ons om ’n langtafel by ’n goeie vriend van ons, Peet, se 40ste verjaarsdag. Die mooiste deel van die aand was sy vrou, Marlize, se geskenk aan hom. Sy het dit presies raakgevat. Sy ken hom, sy het hom gesien en geweet wat sy hart begeer. Dit was ’n geskenk wat hy nie verwag het nie. En ek dink nie voor gevra het nie.

"Dis kosbaar en raar om gesien te word, waar iemand deur jou maskers kyk, deur jou lae en lae beskerming en jou volkome raaksien vir wie jy is. Ek wil van geweet wees, Ma, ek wil nie vrek soos ’n hond nie, ek wil van geweet wees." – Tiemie, Siener in die Suburbs

Ons spring op en af om gesien te word by die werk, op die internet en in ons gesinne en families. “Kyk na my, kyk na my!” roep ons tot ons hees is. Die ironie is, omdat almal so rondspring om gesien te word, staan niemand lank genoeg stil om raakgesien te kan word nie. Daar is nie lank genoeg stilte om mekaar eens in die oë te kyk nie. En wanneer ons ’n kans kry om stil te staan, is daar gereeld ’n foon wat piep, of ’n liggie wat op iemand se pols flits om hulle in kennis te stel dat iemand iewers hulle dalk raaksien. Ons sien mekaar nie. Ons almal loop blind rond. Ons hoor mekaar nie. Ons is almal doof. Ons skree harder en harder om gehoor te word. Ons pof onsself op om gesien te word. Maar wat help dit as almal blind is, en wat help dit om te roep as almal doof is?

Luister is kragtig. Dit is eintlik al wat terapie is – ’n veilige ruimte waar iemand na jou luister. Gereelde luister is genoeg, genoeg om jou wonde skoon te maak en te genees. Ons wêreld is so arm aan hoor en luister en aandag, dat ons mense duur betaal om net na ons te luister. Ek het onlangs gehoor hoe ’n groep in Zimbabwe, ’n land waar een uit vier mense met geestesgesondheid sukkel en daar slegs een psigiater per miljoen mense is, ’n projek genaamd Friendship Bench40 begin het. Dit is ruimtes waar mense ’n kans kan kry om hul hart in ’n veilige ruimte uit te praat, waar hulle gesien en gehoor kan word.

Die projek het die oumas in die landelike streke en dorpe basiese opleiding gegee oor hoe om mense te help om oop te maak en dan hoe om te luister. Die oumas sit dan op bankies in openbare ruimtes en enigeen kan net daar kom sit en praat. Hulle sal antwoord, met die kop knik en nou en dan ’n woord sê, maar dit is met die luister dat mense gesond word.

"We used to talk a lot: “Do this, do that.” But now we ask them to open up, open their minds and hearts." – Sheba Khumalo

Boomwortels in die hemel is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op NB-uitgewers.