Skip to the content

Wynmaatskappye ontvang ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering

Vir die afgelope vier jaar het die Du Toitskloof-Douglas Green-mobiele biblioteek en mediasentrum leesmateriaal en rekenaartegnologie na die plaaswerkers en hulle kinders in die Breedevallei gebring.

Dié uitsonderlike inisiatief wat deur Du Toitskloof- en Douglas Green-wyne van stapel gestuur is, is op 6 September in Stellenbosch met die ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering bekroon.

“Dit is vir ons ’n uitsonderlike toekenning om te ontvang.

“Elke besluit wat ons neem ondersteun ’n sekere uitkoms − hierdie toekenning bevestig net weer dat die besluit en verantwoordelikheid vir verandering in ons land by elkeen lê,” sê Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof.

Die mobiele biblioteek, wat met boeke, rekenaars en internettoegang toegerus is, bedien sowat nege laerskole en oor die 1200 skoolkinders in die groter Breedevallei.

Die werkers van Du Toitskloof bestuur self die fondse vir die aankoop van boeke en die instandhouding van die biblioteek.

Van enorme belang is egter dat die werkers van Du Toitskloof nie bloot na hulle eie kinders omsien nie. Slegs een van die nege skole wat deur hierdie biblioteek bedien word, is verbonde aan Du Toitskloof. Hierdie plaaswerkers reik dus uit na agt ander skole in die Breedevallei sodat hulle mobiele biblioteek ook in die behoeftes van kinders en ouers kan voorsien wat niks met Du Toitskloof te doen het nie en wat minder bevoorreg is as hulle.

Annelien Syfers, ’n boorling van die Breedevallei, is aangestel as bibliotekaris en nou reis daardie biblioteek elke tweede week na die nege skole.  

“Vir elke bottel rooiwyn wat verkoop word ontvang ons 85 sent en vir elke bottel witwyn wat verkoop word ontvang ons 95 sent,” vertel Abraham Oerson, voormalige voorsitter van die projek.

“’n Gedeelte van dié fondse gaan vir die biblioteek en die res word aangewend vir ander projekte soos die sportklub en die vroueklub.”

In 2005 het Du Toitskloof een van die eerste kelders in die land geword om akkreditasie by Fair Trade te kry. Dit beteken dat ’n gedeelte van die opbrengs uit wyn wat verkoop word, direk na die plaaswerkers gaan.

Crystaline Fransman, een van die leerders van Rawsonville, sê die biblioteek beteken baie vir hulle gemeenskap.

“Ek kan die boeke uitneem en dit gaan lees vir my sussies by die huis. Hulle is mal oor die stories.

“Ek leer self ook baie by die biblioteek. Ek doen baie beter in Wiskunde, Afrikaans en Engels vandat ons die biblioteek het.”

Volgens Ed is die doel van die biblioteek om die plaaswerkers en hulle kinders te bemagtig.

“Dit is ons manier om terug te gee aan die gemeenskap en ons werkers wat elke dag hulle alles gee om van ons een van die gewildste wyne in Suid-Afrika te maak.

“Dit is ons manier om aan hulle dankie te sê.”