Skip to the content

ATKV-lede maak musiek op hul balkon vir Gariep Dam

Herman Grobbelaar in aksie.

Ons lewens is onherroeplik deur die koronavirus verander. Ons is ingeperk tot ons huise. Die koop van alkohol is taboe en ons kan nie meer net by ’n familielid of vriend gaan inloer nie. Om nie eers van die ekonomie te praat wat by die dag swaarder trek nie.

In hierdie ongewone tye is dit maklik om aan kajuitkoors te ly en depressief te voel, maar ’n paartjie van Gariep Dam in die Vrystaat het besluit om deur die magiese krag van musiek hul mede-dorpenaars se gemoedere te lig.

Die countrysangers Herman en Driekie Grobbelaar het Saterdagaand (18 April) hulle monitors op hulle huis se balkon ingeprop, die kitaar opgetel en ou gunstelinge vir die mense van Gariep Dam gespeel.

Hulle is albei lede van die ATKV-tak Gariep Dam.

“Ons almal trek swaar in hierdie tyd,” sê Herman.

“Ons inkomste kom van live shows en met die staat van inperking het dit opgedroog.”

Maar hy het besluit dit gaan hulle nie onderkry nie.

“Dit help nie jy gaan sit in ’n hoekie en huil nie. Ja, ons is bekommerd oor wat gaan gebeur ná die staat van inperking, maar ons almal is in dieselfde bootjie.”

Herman en Driekie het by die plaaslike munisipaliteit, sowel as by die polisie toestemming gehad om op hulle balkon konsert te hou.

“Inwoners het ook vir ons boodskappe gelos met versoeke van liedjies wat hulle graag wil hoor.”

En al is die toekoms en vooruitsigte vir baie musikante soos Herman-hulle baie duister, bly hulle steeds positief.

“Ons weet ons gaan deur dit kom en ons sal weer musiek kan maak soos altyd. Die belangrikste is dat ons almal nou hande vat en saam staan.”