Skip to the content

ATKV-tak steek hand uit tydens Covid-19-krisis

Terwyl die meeste van ons ween oor die verlengde inperkingmaatreëls, is daar talle ander wat weens die Covid-19 pandemie werkloos gelaat is en van die hand tot die mond moet lewe.

Die ATKV-tak Oudtshoorn wil egter in hierdie tyd die mense in hulle gemeenskap help wat die ergste deur die krisis geraak word.

“Ek bekommer my nie oor die virus nie,” sê Petra le Roux, takvoorsitter.

“Ek bekommer my oor die mense van Oudtshoorn en hoe hulle gaan oorleef sonder ’n inkomste.”

Die tak het besluit om noodsaaklike goedere soos kos en seep in te samel vir die behoeftiges.

“Hier is ’n groot nood. Hier is baie mense wat op maatskaplike toelaes aangewese is en hulle inkomste met stukwerk aanvul, maar nou is daardie werk skielik nie meer daar nie,” sê sy.

Volgens Petra sou baie van die mense gedurende die KKNK as skoonmakers of sekuriteitswagte gewerk het.

“Die mense maak jaarliks staat op die fees om hulle inkomste aan te vul, maar nou is dit ook nie meer daar nie.

“Ons wil veral fokus op die huishoudings waar daar kinders is.”

Sy sê mense kan of geld of goedere vir die tak skenk.

“Ons is ook in gesprek met kettingwinkels op die dorp om noodsaaklike pakkies vir die mense op te maak en dit af te lewer.

“Ons as ’n tak het nog altyd daarin geslaag om ’n hand uit te reik na die mense van Oudtshoorn en hierdie keer gaan dit nie anders wees nie.”

Indien jy skenkings wil maak vir die behoeftiges van Oudtshoorn kan jy ’n bydrae in die volgende bankrekening deponeer:

ATKV Oudtshoorn
Nedbank
Rekeningnommer: 1187543535
Takkode: 175205
Verwysing: Korona-hulpfonds
Jy kan ook vir Petra skakel by 0724462776 indien jy noodsaaklike goedere wil skenk.