Skip to the content

Covid-19: ATKV-AbbAsorg help kinders versorg

ATKV-AbbAsorgpersoneellede besig met voorbereidings.

Met die uitbreek van Covid-19 is weerlose mense in ons land een van ons grootste bekommernisse. AbbAsorg, die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, staan egter gereed om veral kinders in hierdie onsekere tye by te staan.

“Covid-19 het ons effe onkant betrap, soveel so dat daar min tyd was om alles in plek te kry,” sê Herna Adams, bestuurder: ATKV-Abbasorg.

“Ons grootste kommer was ons kindertjies juis weens van hulle se haglike omstandighede by die huis.”

Honderde kinders maak daagliks staat op die kos wat hulle by die AbbAsorg-sentrums ontvang, maar weens die inperking moes hierdie sentrums noodgedwonge sluit.

Sy sê hulle grootste bekommernis was hulle kinders se blootstelling aan die virus, sowel as verbale en fisieke mishandeling tydens die staat van inperking.

ATKV-AbbAsorg het ingegryp en doen alles in sy vermoë om ’n helpende hand na sy kinders uit te reik.

“Ons het met beperkte fondse kospakkies saamgestel en borge in die gemeenskap het mieliemeel en hoender vir die sentrums geskenk.”

Waar moontlik is daar tot voor die grendeltydperk vetkoek gebak en saam met sop aan kinders afgelewer. Personeel het selfs van die kinders uit hulle eie koskaste gevoer.

Daar is tans vyf Abbasorgsentrums regoor die land wat ’n veilige omgewing skep waar kinders gehalte-opvoeding en -versorging kan ontvang.

Volgens Herna is dit ook vir hulle belangrik om opvoedkundige stimulasie aan hulle kinders te gee en hulle deel aktiwiteite op WhatsApp met ouers om die kinders te stimuleer.

“Ja, daar is uitdagings soos toegang tot 'n slimfoon of data. Tog bereik ons ’n paar. Ons probeer ook dan voortdurend om op te voed rondom higiëne en veilige afstand,” sê Herna.

“Ons wil bly hoop en vertrou dat ons kinders veilig sal wees. So ook AbbAsorg-personeel wat álles in hul vermoë probeer om daar te wees vir ons kinders.”

Vir meer inligting en om te help met skenkings kontak Herna Adams by hernaa@atkv.org.za