Skip to the content

Covid-19 demp nie Tienertoneelgeselskap se kreatiwiteit

Vir die volgende drie weke moet ons in ons huise bly. Flaffie kan nie vir sy daaglikse stappie gaan nie, jy kan nie gaan draf nie en jy mag slegs winkel toe gaan vir broodnodige items. Alles te danke aan die hoogs aansteeklike en gevreesde Covid-19.

’n Groep jong aspirant-teatermakers wat beplan om vanjaar aan ATKV-Tienertoneel deel te neem, het besluit dat geen virus gaan hulle kreatiwiteit pootjie of hulle gees demp nie.

Die Hoërskool Hugenote in Springs se leerders oefen sedert Januarie en toe die algehele inperking aangekondig is, het hulle besluit kom wat wil ... Oefen gaan hulle oefen!

“Ons het net besluit ons kan nie ná al die ure wat ons ingesit het net gaan lê en wag vir die virus om verby te gaan nie,” sê Kobus van der Schyff-Smal, regisseur en skrywer van die skool se produksies, Ademtog, Jy Vrou en Katbos en Kambro.

“Ons almal is maar nog onseker oor wat hierdie jaar gaan gebeur, maar het besluit ons gaan nie enige oefentye mis nie.”

Die drie toneelstukke word in ’n uursessie elk verdeel en word twee keer ’n week geoefen.

Kobus het ’n Whatsapp-groep vir sy leerders gestig waarop hy inligting deurgee van wanneer hulle hul Skype-sessies gaan hê.

“Ons werk oor Skype aan karakterisering en waar moontlik ook aan beweging. Ons het ’n groep op Skype gestig waar jy fisiek almal kan sien. Jy stuur die skakel vir almal en hulle sluit hulle by die groep aan. Jy kan dan almal gelyk bel.

“Die studente werk dan in hulle tydgleuwe. Sodra die een toneel klaar geoefen het, sluit die volgende toneel se spelers by ons aan op Skype.”

Hulle het selfs uit hulle toneelbegroting geld gevat om leerders te help om data te koop.

“Die kinders geniet dit verskriklik en ons as regisseurs kan verskriklik mooi met hierdie soort metode werk om op stemgebruik en gesigsuitdrukking te fokus.

“Ons is dankbaar dat ons ten minste nog ’n manier het wat ons kan oefen en sodoende ook seker maak die akteurs ken hulle woorde sodra die skole weer heropen.

“Ons is verskriklik opgewonde oor hierdie jaar en hoop en bid dat die virus gaan lê en ons die kans sal kry om ons werk op die verhoog te sien,” sê Kobus.

* Wolfstreke, die maandelikse Tienertoneelfluitjieblaser gaan jou ’n bietjie meer vertel oor die binnewerke van ATKV-Tienertoneel. Vir meer oor vanjaar se beoordelaars, streeksfinale se nuwe baadjie en ons splinternuwe digitale platforms.

Lees dit hier.