Skip to the content

Onnies en leerders, hier is ’n kursus of twee

Teen die tyd voel jy dalk al soos ’n dier in ’n hok. ’n Mens kan ook net soveel keer jou klerekaste regpak, skottelgoed was of iets op Netflix kyk voordat kajuitkoors jou beetpak. 

Maar as jy ’n leerder is wat drome het om jou eie besigheid te begin of ’n onderwyser is wat graag aanlyn vir jou leerders wil klasgee, is daar hulp.

Twee van die ATKV-Entrepreneurskompetisie se beoordelaars bied kursusse aan om onderwysers, sowel as leerders, te bemagtig tydens die staat van inperking.

Albert van Wyk wat ’n miljoenêr op 22 geword het, bied nou sy kursus oor entrepreneurskap aanlyn teen ’n spesiale prys aan.

Volgens Albert bied hy gewoonlik hierdie kursus by skole aan, maar weens die staat van inperking is dit nie meer moontlik nie.

“Dit het my toe genoop om die materiaal aanlyn beskikbaar te stel. Dit is gemik op hoërskool- en laerskoolleerders wat belangstel in entrepreneurskap en graag hulle eie besigheid wil begin. Leerders sal al die gereedskap en basiese konsepte aanleer om finansieel onafhanklik te word.”

Die kursus is aanlyn op Albert se webtuiste beskikbaar en as jy die koepon ATKVjeug gebruik, kry jy 25%-afslag.

Daar word ook in hierdie tyd voorsiening gemaak vir onderwysers wat onseker is oor hoe hulle aanlyn klas vir hulle leerders kan gee.

Francois Naude, ’n oudonderwyser, besigheidsman en een van die ATKV-Entrepreneurskompetisie se beoordelaars, bied Vrydag (24 April) ’n webinaar aan vir onderwysers wat graag hulle vaardighede wil bevorder en leer hoe om aanlyn klas te gee.

“Baie onderwysers, ouers en leerders is onseker en angstig tydens die staat van inperking,” sê Francois.

“Dit hoef egter nie so te wees nie. Daar is baie aanlyn hulpmiddels vir onderwysers en leerders om hulle in hierdie tyd te help waar baie geforseer word om tegnologie in die virtuele klaskamer te inkorporeer.”

Francois se webinaar vind Vrydagoggend 10:00 plaas en kaartjies kos R100 elk. Met die koeponkode ATKVjeug kan kursusgangers 20%-afslag kry.

“Die webinaar gaan handel oor Google Classroom. Dit sal stap-vir-stap verduidelik word en hoe om die toep te benut. 

“Ons wil graag in hierdie onsekere tye onderwysers se vaardighede help ontwikkel, hulle motiveer en inspireer.”

Kaartjie is hier beskikbaar.