Skip to the content

Só kan jou kind gratis leer om beter te lees

Week 1 van die staat van inperking is verby en die meeste ouers sit reeds met hul hande in hulle hare.

Baie is raadop en plak die kinders voor die televisie neer of laat hulle maar speletjies op hulle fone speel. Bekommernis oor skoolwerk wat agter raak, ry ma's en pa's bloots.

Vrees nie, met Reading Rocket, in samewerking met die ATKV, kan jy jou kind se leesvermoë opskerp, en dit is boonop tydens die staat van inperking gratis.

“Ons droom was nog altyd om Suid-Afrika se kinders te laat lees,” sê Lotta Engelbrecht, eienaar van Stimulus Maksima wat dié innoverende leesprogram ontwikkel het.

“Ons wil hê ’n groter persentasie leerders moet met toewyding lees en ons wil graag ouers in hierdie tyd kan bemagtig,” sê sy.

Reading Rocket is ’n leesprogram wat afgelaai kan word en bied kursusse aan vir leerders van graad een tot graad 12.

“Ouers hoef dus nie te bekommer dat die program hulle data gaan opvreet nie en daar is meer as 40 stories in Engels en Afrikaans vir elke graad. Ouers sal die kinders lekker besig kan hou.”

Volgens haar is dit deel van Stimulus Maksima se visie om kinders toe te rus met die nodige leesvaardighede.

“Wanneer ’n kind met begrip kan lees, is hy meer kreatief en beskik hy/sy oor beter selfvertroue.

“Ons wil kontinuïteit bewerkstellig. Indien jy ’n vaardigheid vir twee weke of meer afskeep, gaan jy agteruit.”

Sy sê dit is vir ouers ’n uitdaging om kinders in hierdie moeilike tye konstruktief besig te hou, maar meen Reading Rocket is die ideale oplossing.

“Ons wou die net wyer gooi en het besluit om die program gratis te maak. Dit is ons geskenk aan Suid-Afrika.”

Besoek https://www.stimulusmaksima.co.za/product/reading-rocket-home-edition/ en spring sommer dadelik weg.