Skip to the content

Vreugde vir Larissa-Uittreksel

Vreugde vir Larissa is die nuutste lekkerleesroman uit die pen van ATKV-Woordveertjiewenner Elsa Winckler. Larissa Schoeman gaan Nederland toe om verder te studeer. Dan hoor sy die jong Chandré, wie se aanrandingsaak sy vantevore behartig het, is vermoor. Larissa weet wie die skuldige is, en sal nie rus voor hy aan die pen ry nie. Noodgedwonge keer sy na Suid-Afrika terug. By haar geliefde vriendin Reina en dié se man Derek, word sy met Gideon, Derek se broer, gekonfronteer. Gideon wat deur geheimsinnige nagmerries geteister word. Sal geregtigheid geskied en sal Larissa en Gideon saam vreugde kan vind? Vreugde vir Larissa is die laaste boek in die gewilde McGregorreeks, ná ’n Brief vir Reina en ’n Belofte vir Bippie.

Soos altyd wanneer hy haar sien, is sy tong geknoop, galop sy hart en is sy hande gereed om haar nader te trek. “Jy oukei?”

“Wat soek jy hier, Gideon?” Haar karamelkleurige oë het skielik vernou.

“Ek moes seker maak jy’s oukei.”

“Wel, soos jy kan sien, is ek fine. Heeltemal fine. Totsiens.”

Sy begin die deur toemaak.

“Mag ek inkom?”

Sy sug. “Niks het sedert gister verander nie.”

“Ek weet. Mag ek inkom?”

Sonder om te antwoord, los sy die deur en stap terug die huis in. Sy’t hom darem nie weggejaag nie. Haar hare is hoog op haar kop vasgemaak in ’n poniestert en dit swaai heen en weer soos sy sitkamer toe stap.

In die woonkamer val sy oog op die groot Kersboom en die bokse versierings wat halfpad uitgepak is. “Wanneer het jy die Kersboom gekry?” Hy stap nader.

“Reina het dit Vrydag laat aflewer.” Sy kyk op na die boom.

“Ek het nie gedink ek wil vanjaar Kersfees hou nie. My ma het nooit ’n ophef van Kersfees gemaak nie. Ek is die enigste kind en was gewoonlik by Reina-hulle vir Kersfees, want ek kon my so aan hulle Kersboom vergaap.”

Gefassineerd tel hy een van die versierings op, sy gedagtes dadelik ver in die verlede.

“Gideon?”

Hy kyk op. Larissa kyk vraend na hom en hy besef sy moes iets gevra het.

“Skies, my gedagtes was skielik ver in die verlede. My pa het geen Kersversierings in die huis geduld nie, maar ons ma het dit elke jaar op die een of ander manier reggekry om ons vir ’n paar uur die magic van Kersfees te laat ervaar. Sy sou wag totdat Pa gaan slaap en dan het sy vir ons ’n tent van ons beddegoed geprakseer. Dan het sy ’n klein Kersboompie te voorskyn gebring en vir ons die storie van Kersfees vertel. Ek kan haar stem nog so duidelik hoor.”

Met die versiering in sy hand kyk hy na haar: “Jy’t iets gevra?”

“Hoekom is jy hier?”

Hy hang die versiering aan die boom, staan terug en bekyk sy handewerk. “Ek het jou kom help om die boom te versier, wat anders?”

Sy vou haar arms. “Onthou jy wat gister gebeur het?”

Hy knik en buk om die volgende Kersversiering op te tel. Met groot konsentrasie hang hy dit aan ’n tak. “Ek het nog nooit goeters aan ’n Kersboom gehang nie. Vandat ek uit die huis is, was ek elke Kersfees iewers in ’n oorloggebied. Iemand sou altyd iewers ’n boompie neersit, maar Kersdag was maar net nog ’n dag. Is daar nie veronderstel om ’n ster of iets heel boaan die boom te wees nie?”

“Gideon, jy kan nie . . . ?” begin Larissa heftig, maar hy buk, tel die volgende versiering op en soek na die geskikte tak. “Ek onthou wat gister gebeur het. Maar ek is nou hier, besig om Kersversierings op te hang. Gaan jy nie help nie?”

Haar oë vernou.

“Ek het nie vir jou antwoorde nie, behalwe dat ek nou is waar ek baie graag wil wees.” Sonder om weer na haar te kyk, haal hy die volgende versiering uit. Elkeen is in sagte papier toegedraai, elkeen ’n klein kunswerkie. “Dis die mooiste versierings.”

“Ek hou van mooi goed.” Sy begin ook van die versierings oopmaak en ophang.

Hy kyk na die sagte lyn van haar nek, die konsentrasie op haar gesig. “Ek ook.”

’n Blos wat teen haar nek opklim, is al teken dat sy hom wel gehoor het.

“Tsjj. Jy’t issues, jy weet dit, nè? En dis oukei, ek het ook. Ek is nie jou idee van jou trouvrou nie. Goed, ek het jou al die eerste keer gehoor. So ek vra weer, hoekom is jy hier?”

Hy konsentreer op die engeltjie wat hy aan ’n tak probeer hang. “Jy is op die oomblik my grootste issue.”

Uit die hoek van sy oog sien hy sy kyk na hom, maar hy fokus op sy taak. Dit raak stil, dit word donkerder, maar hy gaan nêrens heen nie. Uiteindelik is al die versierings opgehang en heel boaan die boom, ’n groot engel.

Hy staan terug om na die boom te kyk. Larissa skuif ’n paar van die versierings wat hy opgehang het.

“Beheervraat, nè?”

“O ja. Oukei, die boom is klaar, die son aan die sak, wat is die werklike rede hoekom jy hier is?”

“Derek het gebel en my vertel van die brand in jou vorige plek. Ook van die Ricardo-vent wat by Chandré se ma se huis opgedaag het en dat hy jou klaarblyklik onthou.”

“En?”

Hy vryf oor sy nek. Dit help nie om met dié girl te probeer doekies omdraai nie: “Ek en Derek is beide bekommerd die brand was met opset en vir jou bedoel.”

Haar oë rek. Hy kan sien hoe die ratte in haar kop draai.

“Maar dis tog onmoontlik, ek was die hele jaar nie hier nie, hoekom…? Sy gaan sit plat op die grond tussen die bokse en papiere. “Hy’t by Yvette gehoor ek is terug,” prewel sy. “En hy het my ou adres in die hande gekry.”

Gideon hurk af en tel haar hand op: “Niks gaan met jou gebeur nie, daarvoor sal ek sorg. Ek en Derek gaan môre polisiekantoor toe om seker te maak hulle verbind al die kolletjies.”

Sy’s bleek, maar lig haar ken. “Dis my probleem, ek sal self polisiestasie toe gaan.”

Hy staan op en hou sy hand uit. “Jammer vir jou, maar ons gee vir jou om; en dit beteken ons gaan help, of jy nou daarvan hou of nie.” Sy’s vervlaks nie al een met ’n hardekwasstreep nie.

Sy ignoreer sy hand en spring op. “Jy is my goeie vriendin se swaer, dis al. ’n Kennis. Dankie vir jou hulp, maar ek het nog dinge om te doen, jy moet asseblief nou gaan.”

“ ’n Kennis? So soen jy al jou kennisse?”

Sy stap voordeur toe en maak die deur oop. “Jy’t my gesoen.”

Hy stap tot reg voor haar. Sy kruis haar arms. Alles in hom wil haar vashou, wil by haar bly, wil seker maak sy kom niks oor nie, maar sy is reg. Uiteindelik is hy net ’n kennis. Iemand wat sy toevallig ken.

Die gat in sy binneste verdubbel in grootte op pad na sy motor toe.

Vreugde vir Larissa is by Lux Verbi beskikbaar.