Maak ’n verskil met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag

Op 14 Augustus vind Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vir die 16de jaar agtereenvolgens plaas en jy kan boeke op hierdie dag teen ’n winskopie vir jou en jou kinders koop.
“Kinders wat kan lees, vaar beter in die skool en kan later ’n konstruktiewe rol in die samelewing speel,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV.
“’n Kind of ’n mens wat lees, verstaan die wêreld beter, weet die wêreld is veel groter as sy leefwêreld, weet ons is nie almal eenders nie en besef ons dink ook nie eenders oor sake nie. Iemand wat lees het ’n geleentheid om ander mense met respek te hanteer.”
Die idee om ’n dag af te staan aan die Afrikaanse letterkunde het by Nolte Smit, ’n ATKV-lid, posgevat en sedertdien het lesers, skrywers en uitgewers by dié dag baat gevind .
“Dis in alle opsigte ’n wen-wendag, want lesers, skrywers, uitgewers en boekwinkels word bevoordeel. Lesers kry afslag op boeke waarvoor skrywers tantième verdien. Hoe meer boeke verkoop word, hoe beter vir die totale Afrikaanse boekbedryf, en jy kan deel wees hiervan,” sê Chareldine.
Volgens haar kan jou deelname aan die dag kinders help wat nie maklik toegang tot boeke het nie.
“’n Kind in die grondslagfase behoort 40 boeke per jaar te lees. In sommige van ons gemeenskappe lees kinders een of twee boeke per jaar.
“Daar kan baie redes voor wees soos dat hulle nog nooit ’n boek besit het nie, dat hulle skoolbiblioteek nie genoeg voorraad het nie of dat daar niemand in hulle omgewing is wat hulle inspireer of motiveer om te lees nie.”
Daar is bevind dat net 14% van Suid-Afrikaners aktief lees, terwyl daar in 58% van huishoudings nie ’n enkele boek is nie.
’n Derde van ouers vertel nie vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders ’n boek voorgelees nie.
Verder het PIRLS (Progress and International Reading and Literacy Study) bevind dat byna 80% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie.
“Dink ’n bietjie: ons kan hierdie statistieke verander en ’n leesrevolusie veroorsaak.
“Gebruik Koop-’n-Afrikaanse-boekdag 2020 om iemand se lewe te verryk met ’n boek.
Maak solank ʼn lysie van al die boeke wat jy wil gaan koop.
“Ek glo dat ’n huis sonder ’n boek, is soos kos sonder sout – daar kort iets.”
Deelnemende boekwinkels sluit in:
Protea Boekhuis Publisher |
012 343 6279 |
Protea Distr Centre |
021 699 8506 |
Protea Bloemfontein |
051 444 1212 |
Protea Carlton |
011 331 5144 |
Protea Hatfield |
012 362 3444 |
Protea Parow |
021 911 2411 |
Protea Potchefstroom |
018 297 1583 |
Protea Cape Town |
021 685 9380 |
Protea Soweto |
011 933 1330 |
Protea Stellenbosch |
021 882 9100 |
Protea TUT Church Street |
012 320 0793 |
Protea TUT Pretoria West |
012 327 4555 |
Protea UCT |
021 650 2485 |
Protea UJ |
011 482 3566 |
Protea Vaal |
016 932 1791 |
proteaboekwinkel.com |
012 362 3444 |
PNA Strand Square |
072 217 2712 |
PNA Somerset Square |
072 217 2712 |
PNA Colours |
072 217 2712 |
PNA Eikestad Mall |
072 217 2712 |
PNA The Sanctuary |
072 217 2712 |
PNA Whale Coast |
072 217 2712 |
PNA Gordon’s Bay Mall |
072 217 2712 |
PNA Swellendam |
072 217 2712 |
Deelnemende Protea-boekwinkels sal 20%-afslag gee op alle Afrikaanse boeke (uitgesluit boeke wat reeds afgemerk is) en geld vanaf 14 – 21 Augustus. Deelnemende PNA-winkels sal 25%-afslag gee vanaf 14-16 Augustus.