Skip to the content

Marlene le Roux verkies tot voorsitter van ATKV-direksie

Dr. Marlene le Roux, ’n bekende kampvegter vir Afrikaans, kultuur, die jeug en gestremdes, is verkies tot die voorsitter van die direksie van die ATKV-MSW (maatskappy sonder winsbejag).

Weens die Covid-19-pandemie is die ATKV se algemene jaarvergadering Woensdag 19 Augustus 2020 digitaal gehou. ’n Direksievergadering via Zoom het Donderdag 20 Augustus plaasgevind.

Le Roux, sedert 2015 die uitvoerende bedryfshoof van die Kunstekaapteater, sê dis vir haar ’n groot voorreg om deel van die ATKV te wees.

“Om as voorsitter te dien is sowaar die kersie op die koek. Maar, titels doen nie die werk nie. Mense doen die werk. En skouer aan die wiel is wat ons nou meer as ooit tevore makeer. Hoewel elke dag ’n ontdekkingsreis is, moet ons besef hoe ver ons gekom het as ’n land wat met sy vele tale, rasse en kulture saam die pad vorentoe aangepak het. Die ATKV se rol daarin is merkwaardig,” sê Le Roux.

“Uitdagings kom in alle vorms. As ’n organisasie wat ten alle tye sy lede dien en ook nuwe lede werf, blink die ATKV uit as die een wat die stryd om Afrikaans, asook alle tale in die Suid-Afrikaanse milieu, omhels. Hierdie is nie ’n maklike stryd nie. Allesbehalwe, dit verg van leiers om te midde van die Covid-19-pandemie alles in hul vermoë te doen om uitdagings van werkverlies, armoede en hongerte te bekamp. Dit is nou meer belangrik as ooit vir die ATKV om weer te kyk hoe ons die breë gemeenskap kan dien.

“Ek is rêrig bevoorreg as ’n plattelandse vrou van Wellington om met bekwame personeel, ’n uitstekende, doelgerigte direksie en passievolle lede van die ATKV die reis na nog vele ontdekkings saam aan te pak.”

Vir die ATKV wat vanjaar sy 90ste verjaardag vier, is Le Roux se wens “dat ons voortdurend op ’n reis sal wees om veeltaligheid, kultuur-respek en menslikheid te bevorder”.

Le Roux is betrokke by verskeie organisasies en is onder meer die voorsitter van die Chrysalis Jeugakademie. Sy dien ook as lid van die Presidensiële Werksgroep oor Gestremdhede en was tot 2019 die voorsitter van die Desmond and Leah Tutu Legacy Foundation.

Dat Le Roux se werk wye erkenning – ook internasionaal – geniet, blyk uit die talle toekennings op haar indrukwekkende CV. Dit wissel van die Commonwealth Point of Light Award en ’n ministeriële toekenning van die Wes-Kaapse provinsiale regering tot toekennings van die Afrikaanse Taalraad en Franse regering (waaronder ’n ridderskap vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste).

Le Roux het ook nou haar eie geselsprogram Die lewe skuld jou niks op Via (DStv-kanaal 147).

Dirk Lotter is tot visevoorsitter verkies. Dirk dien die afgelope vyf jaar reeds as lid van die ATKV-MSW-direksie in die sakeportefeulje. Hy dien ook op die direksie van ATKV-Sake en Hartenbos Seefront, asook op verskeie komitees van die ATKV.