Skip to the content

ATKV-Postmatriek: Skryf nou in!

Het jy vanjaar matriek geskryf, maar is nog nie heeltemal seker wat om met die res van jou lewe te doen nie? Dan kan die ATKV-Postmatriekjaar dalk net die oplossing vir jou wees.

Hierdie program lewer jaar ná jaar uitmuntende resultate.

Ongeag die Covid-19-pandemie, die staat van inperking en reisbeperkings het ’n groep jong mense die geleentheid gekry om goeie besluite oor hulle toekoms te maak.

Lizette Odendaal, projekorganiseerder van die ATKV-Postmatriekprogram, sê die afgelope jaar se ATKV-Postmatriekjaar het weer aan al die verwagtinge voldoen en 16 jong mense het op vele vlakke gegroei.

Daar moes weens die reisbeperkings en die tydperk wat die studente tuis moes bly geringe aanpassings aan vanjaar se program gemaak word. Dit het egter nie te veel ontwrigting veroorsaak nie en al die aktiwiteite is net geskuif na ander plekke binne die grense van Suid-Afrika.

“Ek glo die sukses van ons program lê in die feit dat ons die jonges blootstel aan probleme wat hulleself moet oplos, of soms is daar goed waarvan hulle nie hou nie wat hulle moet doen en klaarmaak.

“Oor die afgelope 12 jaar het ons program soveel postmatrieks gehelp. Hulle kon seker maak van wat hulle in die toekoms wil doen danksy loopbaanbeplanning en -begeleiding.

“Ná afloop van die Postmatriekjaar het hulle ook ’n hele klomp ekstra vaardighede om op hulle CV by te voeg. Die grootste waarde van die program lê in die emosionele groei wat onder die jongklomp plaasvind.

“Baie ouers sê vir ons dat hulle ’n kind in Februarie afgelaai het, en in November het hulle ’n grootmens kom haal.”

Die ATKV-Postmatriekjaar is ’n tien maande lange gestruktureerde oorbruggingsprogram waarin die jongmense tussen 30 en 35 verskillende kursusse doen. Benewens die persoonlikheidsontwikkeling wat plaasvind en die wye verskeidenheid akademiese kursusse waaruit elkeen kan kies, is daar ook avontuurgeleenthede, dinge wat bloot vir die pret gedoen word en dan word daar ook op vaardighede gefokus wat jou straatskerp sal maak. Dit sluit aspekte soos: etiket, seksualiteit, selfverdediging en huishoudelike vaardighede in.

Chanelda Smit, wat deel was van 2020 se Postmatriekjaar, sê dit was veral haar uithouvermoë wat verbeter het in hierdie jaar.

“Dis nie altyd maklik daarbuite nie en daarom het dit uitstekend gewerk dat ons in posisies geplaas word waarin ons die situasie self moes analiseer en besluit dat jy sterk genoeg is om hierdeur te kom,” sê sy.

Vir haar was die heel lekkerste deel van die program die skubaduikkursus aan die einde van die jaar. Sy het wonderlike vriendskappe gesmee en het ook die geleentheid gekry om seker te maak van haar loopbaankeuse.

Bernice Nel sê sy was eintlik verras oor alles wat sy van haarself tydens hierdie jaar kon leer.

“Elke avontuur het sy eie lesse gehad en ek het veral geleer om dankbaar te wees oor die kleinste dingetjies. Ek het waardering vir die manier waarop ek hierdie jaar kon groei en leer. Dit was ’n fees.”

Vir Victor Basson, nog een van 2020 se studente, was een belangrike ding wat hy in hierdie jaar geleer het om te beplan.

“’n Mens moes dit maar op die harde manier leer. Vir my was dit ook merkwaardig om te sien hoe die wêreld meteens vir my oopgegaan het. Aan die einde van die program het ons ook besef dat niemand anders meer vir ons nuwe geleenthede gaan skep nie. Jy sal dit maar self moet doen.”

Volgens Lizette is dit altyd so lekker om te sien hoe iemand verras is as hulle ’n aktiwiteit voltooi of regkry.

“Die selfvertroue wat ons in hierdie jaar kweek en die vaardighede wat hulle aanleer, kan niemand van hulle af wegvat nie,” sê sy.

Daar is nog geleentheid tot 15 Januarie om vir 2021 se ATKV-Postmatriekjaarprogram in te skryf.

Besoek http://www.atkvpostmatriek.co.za/ of stuur ’n e-pos aan lizetteo@atkv.org.za.