Skip to the content

Kom gesels saam oor #Afrikaans

“Om jou een, eie taal tot nut te gebruik, is ’n groter kuns as om sewe taal by te leer.”

Dié woorde van C.J. Langenhoven in 1913 is 107 jaar later nog net so waar en ter viering van Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) gaan die ATKV saam met ’n formidabele paneel in #Afrikaans oor ’n glas wyn en vingerhappies kuier. En jy is ook genooi...

“Watter beter manier is daar om jou moedertaal te vier as om daarin te lees? Met hierdie geleentheid wil die ATKV die skatkis van Afrikaanse letterkunde vir elke leser oopbreek en die onontdekte juwele daarin blootlê,” sê Karien Brits, Bestuurder: Taal by die ATKV.

Phyllis Green, fotograaf en boekeredakteur by Sarie en een van die paneellede, glo dat ons ons moedertaal lewendig sal kan hou as elke Afrikaanssprekende aktief daartoe bydra. “Praat jou moedertaal,  lees en skryf in jou moedertaal. Gebruik jou moedertaal bewustelik!”

Leon van Nierop sal as die gesprekleier tydens die geleentheid optree en sal met Johan Jack Smith en Reney Warrington, twee ontluikende skrywers, oor hul jongste romans, sowel as met Melt Myburg van Vrouekeur en Phyllis, gesels.

Leon meen dit is belangrik dat nuwe stemme gehoor word. “Ek is nuuskierig oor watter genres nog nie in Afrikaans aangedurf is nie, waar hierdie “nuwe” stories en temas vandaan kom en of dit tekenend van Suid-Afrika in 2020 is. Ek gesels met uitgewers en nuwe jong, dapper skrywers oor hierdie vernuwende en welkome rigting wat die Afrikaanse letterkunde nou oopkop inslaan.”

Moet dus nie hierdie geleentheid op 19 Februarie om 18:00 vir 18:30 by Exclusive Books in Sandton City misloop nie. Toegang is gratis. RSVP voor of op 14 Februarie 2020 by rozeldit@atkv.org.za.