Skip to the content

Kom leef jou liefde vir tale uit

Kom leef jou liefde vir tale uit

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) deel op 22 Februarie die internasionale verhoog met tale soos Zoeloe, Frans, Pools, Duits, Portugees, Spaans en Italiaans om Internasionale Moedertaaldag te vier.

’n Propvol program word van 10:00 tot 17:00 vir die hele gesin by die Goethe-Instituut in Parkwood, Johannesburg, aangebied. 

Op hierdie dag kan mense basiese Afrikaans aanleer en boonop leer hoe ’n mens in Afrikaans flankeer! As jy Afrikaans kan praat, het jy dit nie nodig nie. Jy kan dan jou liefde vir taal kom uitleef deur basiese uitdrukkings in bykans 25 tale te kom leer of die taal van die liefde in Grieks, Frans, Duits, Italiaans, Portugees, Spaans, Zoeloe of Pools aan te leer.

Daar is ook hope vermaak vir kinders met taalspeletjies, gesigsverf, storievertellings en lekker eetgoed.

Daar is van 14:00 tot 16:00 ’n rondetafelgesprek met die tema: Die relevansie van moedertaalonderrig in Suid-Afrika binne die internasionale konteks.

Sprekers by die geleentheid is Karien Brits (bestuurder: taal by die ATKV), prof. Jonathan Jansen (Universiteit Stellenbosch) en dr. Makhosi Busisiwe Khoza (voormalige politikus en skrywer van UZALO IsiZulu Grammar Textbook).

Die gespreksleier is dr. Samia Chasi van die International Education Association of South Africa.

Vir meer hieroor besoek die geleentheidsbladsy op Facebook