Skip to the content

Koorwerkswinkel ideaal vir koorleiers wat meer wil leer

Of jou koor min of geen ervaring het nie of teen die beste van die bestes meeding, die ATKV-Applouskoorwerkswinkel gaan jou toerus om jou koor tot nuwe hoogtes te neem.

Dié kursus word op 29 Februarie 2020 by NG Kerk Skuilkrans, Val-De-Grace, Pretoria, aangebied.

Carinda Fourie en Hannelize du Plessis, albei ervare koorleiers wat met vele toekennings spog, is die aanbieders.

Carinda is van mening dat hierdie die ideale werkswinkel is om koorleiers te help om groei in hulle kore te bewerkstellig.

“Ek gaan onder meer fokus op basiese koorwerktegnieke, intonasie en aspekte van koorsang waarmee dirigente dikwels sukkel. Ek gaan ook ’n koortjie daar hê wat reeds ’n lied aangeleer het, maar wat nog nie afgerond is nie. Só sal ek doeltreffend tegnieke kan demonstreer.”

Die werkswinkel bestaan uit twee dele. Carinda gaan haar toespits op koorleiers van junior kore en senior kore van laerskole wat min of geen ervaring het nie. Hannelize gaan op haar beurt werk met koorleiers van hoërskoolkore.

“Almal het sy eie unieke probleme en omstandighede by sy koor en ’n koorwerkswinkel soos dié bied die ideale geleentheid om saam planne te maak. Ek glo daar is ’n oplossing vir elke probleem en ons almal kan by mekaar leer,” sê Hannelize.

Die kursus begin om 09:00 en kos R450 per persoon. Die kursus is deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwysers (SARO) geakkrediteer. Kursusgangers moet onthou om hul SARO-nommer saam te bring.

Kontak vir kontak vir René Zietsman by 011 919 9094 of renez@atkv.org.za vir meer inligting.