Skip to the content

Skop nuwe genres oop in Afrikaans

By die eerste ATKV-Inkstories van 2020 was van links Karien Brits en Gerrie Lemmer van die ATKV, Melt Myburgh, Johan Jack Smith, Mandie Ehlers van die ATKV, Phyllis Green, Reney Warrington, Leon van Nierop en Rozeldi Trollip van die ATKV. Foto: Waldo Swiegers

Net omdat ’n boek, rolprent of teaterstuk in Afrikaans is, beteken nie resensente moet dit lof toeswaai nie.

Hierdie stelling van Willie Burger, ’n Suid-Afrikaanse akademikus, resensent en skrywer, het Woensdagaand ’n warm debat ontketen tydens die eerste ATKV-Inkstories van 2020 by Exclusive Books in Sandton.

“Dit kan nooit te gemoedelik raak nie. Ek dink kritiese resensies is gesond en hoe meer debatte ’n mens kry, hoe beter is dit vir die rolprent of vir die boek en vir die taal.”

Leon van Nierop, bekende resensent en gespreksleier, het hom by Willie geskaar.

“Wanneer ek krities of selfs negatief resenseer, nooi ek altyd die skrywer om met my daaroor te kom praat. Die uiteinde is amper altyd begrip en respek. Uiteindelik poog ons om deur kritiek die gehalte van Afrikaanse werke te verbeter.”

Estel Terblanche, projekkoördineerder en omroeper by Pretoria FM, het dit egter onderstreep dat jy nie jou luisteraar, jou kyker of jou leser die reg mag ontneem om self te kies nie.

“Ons rol as resensente is om elkeen aan te moedig om self te gaan luister, lees of kyk en hul eie mening te vorm.”

Benewens resensies het genres, gapings in die Afrikaanse boekemark, kortverhale, taalgebruik en taboes ook onder die loep gekom.

Johan Jack Smith en Reney Warrington, twee ontluikende skrywers, sowel as Phyllis Green, boekeredakteur van Sarie en Melt Myburgh, verhaleredakteur van Vrouekeur, was op die paneel en het land en sand gesels.

In die gesprek oor genres het Johan oor sy boek Zola vertel dat dit deels stadsroman, deels spanningsroman en deels misdaadroman is en dat hoewel sommiges daaroor kritiek lewer, word genres in die detail en die agterverhaal van sy roman verweef.

“Ek wou nie bloot net ’n 170-bladsye misdaadverhaal skryf nie. Ek het baie meer wat ek wil sê en baie meer wat ek wil skryf.”

Hy het ook bygevoeg dat Wenkbrou, ’n druknaam van LAPA Uitgewers waarvan hy opdraggewende redakteur is, “kanse gee vir skrywers wat stories buite raamwerke en genres skryf – want ’n goeie storie bly ’n goeie storie, ongeag dit in ’n boksie pas of nie”.

Phyllis glo dat genres soos wetenskapsfiksie, erotika, distopiese romans en intense gruwelromans nog nie heeltemal in Afrikaans verken is nie. “Daar is ook ’n groot geleentheid in die mark vir oorspronklike Afrikaanse kinderverhale. Geen kind tel net ’n boek op en sê ‘wow’ en dan is hulle ’n leser nie. Daai liefde word gekweek deur ’n ouer wat voorlees, deur ’n ouer wat boeke gee. Ek voel ons doen goed in die kinderboekkategorie, maar waar is die oorspronklike Afrikaanse stories?”

Reney is dit eens en die kreatiwiteit waarmee sy Afrikaans in haar boek Smit Motors gebruik het, het veral vir Leon beïndruk.

“Daar is ongelooflike Afrikaans om mee te speel en webtuistes soos VivA Afrikaans is ongelooflik daarvoor.”

Die grense van genres word in Afrikaanse films ook verskuif en Pietie Beyers, Suid-Afrikaanse akteur en skrywer, het vanuit die gehoor saamgesels oor sy onlangse film, Skemerson. Hy meen dat dit nie noodwendig in ’n spesifieke genre geklassifiseer kan word nie.

“Ek het gesien hoe mense 'n behoefte het om te praat oor weerloosheid en toe ek die nood sien het ek besef ek wil hierdie storie deel.”

Kortverhale en die mark daarvoor is ook bespreek en volgens Melt is die mark vir kortverhale klein en kortverhaalbundels verkoop weinig, maar tydskrifte bied ’n platform vir kortverhale om gevier te word.

“Vir my gaan dit ook oor kwaliteit en respek. Ons plaas verhale vir intelligente, oopkop lesers.”

Ná die gesprek het die gehoor en paneel saamgestem dat daar nog spasie is vir Afrikaanse stories om hul grense te verbreed en nuwe genres oop te skop!

“Dit was ’n heerlike, wye en soms warm gesprek, maar die lekkerte is dat ons dit in Afrikaans kan doen,” sê Leon.

“Genres wat onderbenut is behoort meer prominensie te geniet en meer skrywers moet probeer om daardie genres te ontgin. Dit is lekker om te sien hoe daar in Afrikaans vreesloos, reguit, dikwels met heerlike moedswil en op die man of vrou af geskryf word.”