Skip to the content

Unieke KKNK-konserte in die Kangogrotte

Vir die eerste keer sedert 1996 word twee konserte in die Kangogrotte tydens die KKNK aangebied. Die unieke en eenmalige konserte wat met spesiale toestemming aangebied word, beloof om twee onvergeetlike aande te wees saam met twee van Suid-Afrika se mees gerespekteerde kunstenaars. Feesgangers kry die geleentheid om die natuurlike erfenis van die historiese rotsformasies met besonderse musiek te ervaar.

Karen Zoid Unplugged in die Kango-grotte is ’n akoestiese vertoning saam met die kitaarspeler Henry Steel op 27 Maart. Op 28 Maart kom Charl du Plessis: Die Kangogrotte-konsert, ’n solo-klavieruitvoering op ’n Steinway-klavier, aan die beurt.

Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK, sê: “Die Kangogrotte is een van Oudtshoorn se trotse attraksies, ’n magiese natuurlike erfenis in die Klein Karoo. Dit is werklik ’n groot voorreg om as deel van vanjaar se KKNK die grotte deel te maak van die fees en twee besonderse konserte hier aan te bied. Die KKNK is ’n bestemmingsfees en met dié unieke ervaring kan ons ook met die Klein Karoo se natuurlike erfenis spog en dit ten toon stel. Ons wil ook ’n wyer bewusmaking oor die Kangogrotte stimuleer en as deel van die geleenthede dra ons by tot die fondse om dié kosbare erfenis te bewaar.”

Karen Zoid
Dis 20 jaar sedert "Afrikaners is Plesierig' die musiekbedryf soos ’n bom getref het. Sy het met deursettingsvermoë en ’n oordosis talent ’n ongekende loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiek- en TV-landskap uitgekerf. Tien albums later, en ná vier albums wat tydens haar TV-progam Die Republiek van Zoid Afrika opgeneem is, het haar musiek volksbesit geword. Om die mylpaal te vier, gee sy hierdie spesiale konsert. Dis ’n unieke ervaring wat ’n mens nêrens anders in die wêreld as in die Klein Karoo kan ervaar nie. Dit beloof om een van die feeshoogtepunte te wees.

“Ek besef dat ek ongelooflik bevoorreg is om die geleentheid te kry om in die beeldskone, geskiedkundige skat wat die Kangogrotte is, te kan optree. Dis nie almal wat kan sê dat hulle konsert gehou het in ’n grot nie. Ek en Henry Steel sien verskriklik uit om deel te word van die oer-oue akoestiek van die Van Zyl-saal in die grotte. Die Kangogrotte is ’n wêrelderfenisgebied en ’n juweel in die Suid-Afrikaanse natuurkroon.”

Charl du Plessis
Charl du Plessis sal in 2020 die eerste pianis ter wêreld word om op Internasionale Klavierdag ’n solo-klavieruitvoering hier aan te bied. Die Kangogrotte is na raming oor ’n tydperk van 20 miljoen jaar gevorm en nog nooit was daar ’n uitvoering op ’n vleuelklavier in hierdie geskiedkundige landmerk nie. Die 88 klawers van die klavier word wêreldwyd op die 88ste dag van die jaar gevier wat in 2020 op 28 Maart tydens die KKNK val. Charl is Suid-Afrika se voorste vertolker van klassieke- en jazz-klaviermusiek en as Steinway-kunstenaar speel hy tydens hierdie uitvoering op ’n Steinway-konsertvleuel. Die grotte sal weerklink met musiek van Rachmaninoff, Chopin, Bach en Beethoven, wie se Maanligsonate ter viering van die 250ste herdenking van sy geboorte ingesluit word. Charl blaas ook nuwe lewe in Gershwin se soloverwerking van Rhapsody in Blue.

“Om in die Kangogrotte te speel was vir soveel jare my droom – die ruimte, die akoestiek, die donkerte en die klanke wat ’n mens omvou. Ek het nooit gedink die logistieke nagmerrie om ’n Steinway daar in te kry, sou deur die KKNK moontlik gemaak word nie en ek sal hulle ewig dankbaar wees. Ek lek al behoorlik my lippe af vir die wonderlike en beroemde akoestiek en sien uit om die gehoor op 28 Maart te vermaak met musiek wat in elkeen se smaak sal val.”

Alison Moos, die operasionele bestuurder van die Kangogrotte sê: “Die Kangogrotte sien daarna uit om twee welbekende Suid-Afrikaanse kunstenaars hier te verwelkom. Hierdie is ’n eksklusiewe en ’n eenmalige ervaring en ons deel graag die uniekheid van die Kangogrotte met konsertgangers.”

Theart beaam dit: “Dit is belangrik om te weet dat hierdie werklik uitsonderlike toestemming is wat verleen word en dat die grotte nie in die algemeen beskikbaar is vir publieke geleenthede soos hierdie nie. Baie streng riglyne word gevolg en beperkte aantal kaartjies word beskikbaar gestel om te verseker dat die konserte geen impak op die grotte sal hê nie.”

Albei konserte kos R500 elk, en sluit in iets om te eet en te drink voor die aanvang van die uitvoerings. Verversings sal 19:00 bedien word en die konserte begin 20:00.

Om kaartjies vir Karen Zoid se vertoning te koop, klik hier. Kaartjies vir Charl du Plessis se konsert is hier beskikbaar.