Skip to the content

ATKV-Tienertoneel se wenproduksie vanjaar by KKNK

Vir meer as ’n halwe eeu bring ATKV-Tienertoneel uitmuntende produksies op die planke.

Verlede jaar was geen uitsondering nie en die wenproduksie van ATKV-Tienertoneel 2019 sal vanjaar ook teaterliefhebbers by KKNK bekoor.

Die Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp se produksie Waterbrief beloof om ’n kragtoer te wees.

Minke Marais, wat die rol van die hoofkarakter, Nina, vertolk, is ook tydens die kompetisie as die beste aktrise aangewys.

Dié stuk handel oor ’n waterbrief wat niemand kan hoor nie, bewoord in druppels in ’n taal wat net die dooies kan lees. Toegevou in wit en blou, in die teëls van die swembad waar sy duik. God breek ’n hart en dag ná dag is Nina vasgevang in ’n montage van haar familie wat sonder haar uitmekaar val. Sy word wakker in die mure van haar huis. Sy is orals en sy is nêrens nie, en sy aanskou haar gesin se kronkelpad-reise op soek na die droom van nuwe lewe wat begin.

Die bekende dramaturg Nico Scheepers het die teks geskryf. Mariki de Villiers-Knop het die regie behartig.

Waterbrief is die ongelooflikste teaterstuk en die manier waarop die teks geskryf is en die regie behartig is, gee ’n nuwe beeld van karakterisering.

“Minke Marais is ’n talentvolle aktrise wat betekenis en lewe aan dié toneelstuk gee. Die toneelspel is op die standaard van professionele akteurs,” sê Charlton Lee, hulporganiseerder by die ATKV.

Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, beaam dit.

Waterbrief is een van die beste eenvrouvertonings wat die ATKV-Tienertoneelkompetisie nog opgelewer het,” sê hy.

“Minke Marais lewer uitsonderlike spel en laat reg aan Nico se teks geskied. Dié produksie het nie verniet die toekennings vir beste produksie, beste aktrise en beste grimering gewen nie.”

Volgens Gerrie is dit vir die ATKV geweldig belangrik dat wenproduksies soveel as moontlik blootstelling en optreegeleenthede kry.

“Die ATKV en die KKNK gee op dié manier jong opkomende akteurs ’n professionele platform en in die proses word jong teatergangers gekweek.”

Die toneelstuk kan op 23, 24 en 25 Maart in die ATKV-Griesselsaal by die KKNK in Oudsthoorn gesien word.

Die produksie is 35 minute lank en ouerbegeleiding word aanbeveel.

Kaartjies kan teen R95 by Computicket gekoop word. Kaartjies by die deure sal teen R110 verkoop word.