Skip to the content

ATKV-Crescendo: Kom wys jou slag as ’n liedjieskrywer

Whaden Johannes was een van die deelnemers aan ATKV-Crescendo en spog met sy eie CD.

Steek daar ’n liedjie binne jou weg wat wag om los te breek en derduisende mense te bekoor?

Wil jy graag by van die beste liedjieskrywers – soos Danie du Toit van Spoegwolf en Rumacques Gelderbloem (Oxijin) – leer hoe om jou liedjie lewe te gee?

Dan is ATKV-Crescendo net vir jou.

Dié projek het al vir verskeie kunstenaars soos Jak de Priester, Randall Wicomb, Anneli van Rooyen en Rina Hugo se drome vlerke gegee.

Die projek se inskrywings is nou oop en die ATKV wil graag jou liedjie hoor.

“Crescendo is werklik die plek waar legendes gebore word en hierdie projek word doelbewus nie in ’n kompetisieformaat aangebied nie,” sê Morné van Staden, projekorganiseerder.

“Ons waardesisteem bepaal dat ons eerstens in mense belê en sodoende hul talente ontdek en ontwikkel en dat daardie talente nie gebruik word om teen mekaar te kompeteer nie, maar eerder om mekaar aan te vul.”

Die projek word in ’n digitale formaat aangebied en ’n reeks tutoriale video’s is bekend gestel om aspirantliedjieskrywers te help.

“Dit dien as platform waar ons die projek bemark en ons natuurlik soveel as moontlik liedjieskrywers wil aanmoedig om hulle in te skryf.

“Die digitale teenwoordigheid van Crescendo bestaan dus uit opleiding wat ons aanspreek deur die tutoriale, asook die bekendstelling van musiek wat ons opneem van vorige finaliste, soos Jodi Jantjies, Lindell Diedericks (Miss DeeDee), Amigo en die EDNAs.”

Deelnemers dring later deur na die mentorprogram van ATKV-Crescendo wat deur Deon Meiring, Danie du Toit (Spoefwolf), Rumacques Gelderbloem (Oxijin) en Robin Fourie (Die Hooflig) aangebied sal word.

“Die mentorprogram wat in September aangebied sal word, sal ook in ’n digitale formaat plaasvind. Die inskrywings word beoordeel deur die span aanbieders en ’n groep finaliste word gekies.”

Finaliste sal aanlynopleidingsessies ontvang wat vooraf opgeneem is, asook opdragte wat hulle moet indien.

Finaliste sal ook een-tot-een- virtuele sessies met mentors kan bespreek. Na afloop van die mentorprogram sal finale beoordeling van die finaliste se werk plaasvind en daarvolgens sal finaliste vir die finaal gekies word.

“Kom word deel van die Crescendo-familie en gee jou drome vlerke.”

As jy jou vir ATKV-Crescendo wil inskryf, klik hier, laai die inskrywingsvorm af. Jy kan ook ’n e-pos stuur na crescendo01@atkv.org.za om die inskrywingsvorm te versoek.

Kontak Morné van Staden by MorneV@atkv.org.za vir meer inligting.