Skip to the content

ATKV-Digi: Inskrywings van wyd en syd ontvang

Vir die eerste keer in die ATKV se bestaan van 90 jaar word die organisasie se projekte in die kuberruim aangebied en die reaksie is oorweldigend.

“Ons het baie navrae en positiewe terugvoer gekry. Die aanlyn proses is nuut vir ons deelnemers, maar hulle het dit gou bemeester,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur.

Weens die Covid-19-pandemie en Suid-Afrika se staat van inperking kon die ATKV nie met sy projekte voortgaan nie.

Projekte soos ATKV-Tienertoneel en ATKV-Redenaars moes in sy huidige formaat onbepaald uitgestel word, maar dit het die organisasie genoop om met nuwe, innoverende inisiatiewe vorendag te kom.

“Die positiwiteit waarmee die inisiatief nasionaal en internasionaal in die mark ontvang is, maak ons baie opgewonde.

“Vir die eerste keer het ons deelnemers uit Nieu-Seeland en Kanada. Dit is goed om te sien dat die ATKV se lede en deelnemers dankbaar is vir die geleentheid en om deur ons projekte emosioneel te groei en te ontwikkel,” sê Gerrie.

Die agt projekte word almal aanlyn aangebied en is hierdie keer nie net eksklusief vir Suid-Afrikaanse deelnemers nie. Daar is ook ’n wye verskeidenheid van projekte wat wissel van skryfkompetisies tot leierskapkursusse.

Volgens Gerrie is hulle opgewonde oor die belangstelling wat die projekte uitlok.

“Die eerste DigiProjek (DigiPraat) het verlede week gesluit en ons het baie inskrywings ontvang. Die ander DigiProjekte se inskrywings lyk ook belowend.

“Die aanlyn kursusse wat ons aanbied word baie goed ondersteun en deelnemers is beïndruk met die aanbieders en kwaliteit van die inhoud.

“Die sosiale impak van die inperking is enorm. Dit maak ons opgewonde om te sien hoe mense die geleentheid aangryp om op ʼn kreatiewe wyse uit die pandemie se wurggreep te ontsnap.”

Hy sê die verandering in formaat het geen impak op die kwaliteit van die beoordeling of die waarde van die ATKV-toekenning wat wenners ontvang nie.

“Gebruik die geleentheid om jou taal- en kultuur-CV uit te brei om ander geleenthede te ontsluit.

“Die pandemie sal verbygaan en ons sal in die toekoms nog groter en beter kwaliteit taal- en kultuurprojekte in verskeie formate aanbied. Wees saam met die ATKV opgewonde oor die opwindende geleenthede wat op ons wag.

Klik hier om meer oor die onderskeie DigiProjekte uit te vind.