ATKV-DigiSpanpraat: Vier vaar beter as een
Wanneer jy aan ATKV-Redenaars dink, dink jy aan ’n senuweeagtige leerder, kaartjies in die hand wat voor ’n gehoor sy/haar standpunt moet bewys, maar met die ATKV-DigiSpanpraat kan sprekers nou uitsien na groepwerk en spangees om hulle sê te sê.
Die konsep van spanredenaars was vir die afgelope 40 jaar die baba van ATKV-tak Suid-Gauteng Spanredenaars, maar is nou tot ’n nasionale digitale kompetisie uitgebrei.
“Ons is baie opgewonde om hierdie projek vir die hele wêreld toeganklik te maak,” sê Jacqueline Göttert, projekorganiseerder by die ATKV.
Volgens Henda Momberg, voorsitter van die ATKV-tak Suid-Gauteng Redenaars, sien hulle baie uit dat spanne op internasionale vlak in hierdie styl van redenaars meeding.
“Dit is vir die laaste 40 jaar veral in Alberton, Kempton Park en Springs aangebied, maar ons het baie navrae begin kry van plekke so ver soos Rustenburg, Secunda en selfs die Suid-Kaap.”
Hoe werk ATKV-DigiSpanpraat?
Stap 1: Maak ’n span!
’n Span bestaan uit 4 lede wat hetsy vriende, klasmaats of selfs familielede kan wees.
Stap 2: Kies ’n tema!
Waaroor wil julle mond uitspoel?
Kies enige onderwerp wat die span lekker aan die praat sal kry.
Stap 3: Formuleer ’n standpunt!
Dit is ’n beredeneerde spantoespraak en nie ’n praatjie nie.
Formuleer dus ’n standpunt wat aan die hand van argumente en bronne deur spanlede beredeneer kan word.
Stap 4: Wie sê wat?
Spreker 1:
- Stel spanlede bekend
- Inleiding
- Primêre standpuntstelling
- Samevatting
- Algehele slot
Spreker 2, 3 en 4:
- Ondersteunende standpunt
- Inleiding (t.o.v. sekondêre standpunt),
- 2-3 argumente met bronne
- Slot (t.o.v. standpunt).
Wie kan deelneem?
Afrikaans Huistaal-spanne
- Afrikaans Huistaal-spanne in dieselfde graad (graad 1-12).
Tweetalige spanne (Afrikaans en Engels)
- Vir Afrikaans Addisionele Taal-spanne in dieselfde graad (graad 1-12), waar ten minste 50% van die toespraak Afrikaans moet wees.
Familiespanne
- Vir families van enige ouderdom- en taalkombinasie.
Inskrywings sluit 31 Augustus!
Kry jou span bymekaar en raak aan die praat.
Vir meer inligting kontak Jacqueline Göttert by 011 919 9038 of per e-pos by jacquelineg@atkv.org.za.
Klik hier vir die volledige deelnemersgids en om in te skryf.