Skip to the content

ATKV-Idiome Sonder Woorde-kompetisie: Hier is die wenners

Van links is Lucy Erasmus, Lise-Mari Coetzee, Mea-Leigh en Nicolette Hayward se sketse.

Teen die tyd ly die meeste van ons al weens die inperking aan kajuitkoors. Ons is emosioneel getap. Gefrustreerd en so hol soos ’n kalbas.

Die ATKV het met sy Idiome Sonder Woorde-kompetisie vir leerders kreatief uitgedaag om hulle lewe tydens die pandemie meer draaglik te maak en die inskrywings het as’t ware die beoordelaars dronkgeslaan.

Maar hoe gemaak as jy ’n idioom moet uitbeeld sonder woorde? Dis eenvoudig. Jy skets, verf of maak ’n video.

Graad 1- tot graad 12-leerders kon enige idioom van hulle keuse kies en dit dan visueel in enige medium van hulle keuse uitbeeld.

“Ons het besluit dat hierdie inperking ons teen die mure uitdryf en ons wou net iets lekkers met die taal doen,” sê Karien Brits, een van die beoordelaars.

Daar was 135 inskrywings van regoor die land.

“Ons het ’n groot verskeidenheid van inskrywings gekry van alle mediums. Daar is geteken, geskilder en video’s en animasiefilms is gemaak. Die idee was om nie die kreatiwiteit te demp nie.”

In die graad 1- tot graad 3-kategorie het Ezra Greeff (gr.2) van Port Elizabeth met sy video vir “alle grappies op ’n stokkie” gewen. In die graad 4- tot graad 5-kategorie het Mea-Leigh (gr. 4) van Pretoria Tuine met haar skets vir “lig in die broek” gewen. Vir die graad 6- en graad 7-leerders Lucy Erasmus (gr. 7) van Brits gewen met haar skets vir “mense vee hul af aan my”. Nicolette Hayward (gr. 8) van Klerksdorp het koning gekraai in die gr. 8- en gr. 9-kategorie met haar skets vir “hy kan ’n kameelperd se hare kam”, en in die kategorie vir gr. 10 tot gr. 12 het Lise-Mari Coetzee (gr. 10) van Port Alfred gewen met haar skets vir “iets uit die duim suig.”

Die wenners het elkeen ’n boekprys van Lapa Uitgewers ontvang.

“Die doel van die kompetisie was net om weer die genot in taal terug te sit. Taal is nie net reëls en eksamens nie. Dit is ook iets waarmee jy jouself kan uitdruk en jou kreatiwiteit mee vlerke kan gee,” sê Karien.

 

comments powered by Disqus